|

Amanzimtoti-tak maak mooi tydens #VegEnBou-week

Die AfriForum-tak in Amanzimtoti het op 8 Augustus die organisasie se #VegEnBou-week begin met taklede en vrywilligers wat verskeie opheffingsprojekte van stapel gestuur het.

Die Amanzimtoti-tak en gemeenskapslede het die week begin deur dele van die treinbrug voor Kuswag Skool veiliger te maak. Dit behels om gevaarlike stukke geroeste staal te vervang. Die een vlank van die brug is voltooi en die ander gedeelte vorm deel van ’n opvolg herstelproses.

Die tak het op 10 Augustus die voetoorgang voor Kuswag Skool oorgeverf. Gedurende hierdie week het AfriForum ook 20 000 liter noodwatertenks en ’n drukpomp aan die skool geskenk wat deur vrywilligers geïnstalleer is. Hierdie noodwatertenks is veral nodig omdat daar sedert die oorstromings in April 2022 gereeld wateronderbrekings voorkom.

Verder het die Amanzimtoti-tak ’n skoonmaakprojek by die Merebank-konsentrasiekamp aangepak. Lede van Durban het ook gehelp om die terrein skoon en netjies te kry.

Die #VegEnBou-week is afgesluit met ’n konsert deur die sanger Jakkie Louw, wat gesamentlik deur AfriForum en Kuswag Skool aangebied was.

“Dit was vir ons ’n opwindende week. Ons kan nie net terugstaan, ons lot aan die owerhede oorlaat en niks self doen nie,” sê Jannie van Staden, AfriForum se tak-voorsitter vir Amanzimtoti.

“Ná die inperking, die Junie 2021-betogings en die onlangse vloede, was dit ook nodig dat die Amanzimtoti-gemeenskap bymekaarkom en die konsert geniet.”

“Dit is belangrik dat takke deelneem aan #VegEnBou-projekte. Ons sien daagliks dat die staat meer gereeld sy verpligtinge nie nakom nie en dat gemeenskappe self moet inspring om probleme op te los en herstelwerk te doen,” sê Eugene van Aswegen, distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

Die Amanzimtoti-tak nooi die gemeenskap uit om aan te sluit by hul Facebook-blad en deel te neem aan verdere projekte.

Die gemeenskap word aangemoedig om by hierdie AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Amanzimtoti” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings