|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek aangekondig dat die beoogde verskuiwing van munisipale grense beveg sal word. Voorts het dié burgerregteorganisasie ’n regsaksie oor die beweerde bedrog en korrupsie by die Universiteit van Johannesburg (UJ) geloods. Verskeie takke het volhoubare projekte aangepak en in Brits het die AfriForum-buurtwag gehelp om ’n watermeterdief vas te trek.

Die Munisipale Afbakeningsraad (MAR) het aangekondig dat hy in die proses is om die skuif van verskeie munisipale grense in die land te oorweeg. Deur hierdie verandering poog die raad om sekere munisipaliteite te vergroot sowel as om nuwe munisipaliteite te skep.

“AfriForum is bekommerd oor hierdie proses wat die MAR van stapel gestuur het, en sal in baie dele van die land die beplande veranderinge teenstaan. Indien die raad suksesvol is, sal dit tot gevolg hê dat al die bestaande Metropolitaanse Munisipaliteite se areas van verantwoordelikheid merkwaardig vergroot. Dit sal hierdie munisipaliteite se befondsing laat toeneem en groter geleenthede skep vir korrupte amptenare om geld onregmatig te bekom,” sê Petrus Coetzee, raadgewer vir plaaslikeregeringsake by AfriForum.

AfriForum het ’n aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) op die UJ beteken na aanleiding van beweerde bedrog en korrupsie op die hoogste vlakke van die universiteitsbestuur tussen 2014 en 2017. Dit blyk dat die voormalige UJ-professor Vivian Alberts se intellektuele eiendom sonder sy medewete deur raadslede na ’n privaatmaatskappy oorgedra is. Alberts het reeds in 1993 sy dunlagiesonselle gepantenteer. AfriForum se regspan tree namens Alberts in hierdie aangeleentheid op.

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum

In Potchefstroom het die AfriForum-tak ’n kompetisie geloods om die gemeenskap te help om slaggate te vul. AfriForum-lede kon stem vir areas wat hulle voel dringend aandag nodig het. Slaggate is reeds in die sentraalstreek gevul waar 90 sakkies teer gebruik is. Die kompetisie sal weer aangebied word en lede word aangemoedig om deel te neem.

AfriForum se tak in Potchefstroom het slaggate gevul.

AfriForum se Rustenburg-tak het ook ’n volhoubare projek aangepak en het in ’n maand se tyd meer as drie hektaar gras gesny. In Brits het ’n watermeterdief sy rieme styf geloop teen die AfriForum-buurtwag. Meer as 30 watermeters is die afgelope tyd in Brits gesteel. Die publiek word aangemoedig om op die uitkyk vir verdagtes te wees en diefstalle by die SAPD aan te meld.

Soortgelyke plasings