|

AfriForum bied hulp vir Tshwane-metro aan om probleme met vullisverwydering op te los

AfriForum is bekommerd oor die voortdurende uitdagings vir die lewering van vullisverwyderingsdienste in die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit. In ooreenstemming met sy missie om by te dra tot die verbetering van gemeenskappe, bied AfriForum sy ondersteuning en kundigheid om hierdie kritieke kwessies doeltreffend te takel.

Die kwessies rondom vullisverwyderingsdienste binne die Tshwane-metro skend die regte van inwoners om in ’n skoon en gesonde omgewing te woon, soos verskans in die Suid-Afrikaanse Grondwet. Benewens die negatiewe impak op die lewenskwaliteit van inwoners, ondermyn hierdie uitdagings ook die munisipaliteit se voldoening aan sleutelwetgewing soos die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (Wet no. 59 van 2008) en die Munisipale Finansiële Bestuurswet, (Wet no. 56 van 2003).

AfriForum sien die dringendheid van die situasie en besef dat daar ’n behoefte is aan innoverende en praktiese oplossings om die tekortkominge in vullisverwydering reg te stel. Daarom is AfriForum bereid om met die Tshwane-metro saam te werk om die betrokkenheid van private vullisverwyderingsmaatskappye te ondersoek. Hierdie benadering kan moontlik nie net verbeterde vullisverwyderingsdienste oplewer nie, maar ook finansiële besparings vir die munisipaliteit tot volg hê.

AfriForum beoog om, deur sy netwerk van betroubare vullisverwyderingsmaatskappye, ’n vennootskap te fasiliteer wat strook met die munisipaliteit se wetlike verpligtinge en finansiële bestuursbeginsels. Die organisasie glo dat die gekombineerde pogings van openbare en private sektore ’n sinergie kan skep wat sal lei tot volhoubare oplossings vir uitdagings wat met vullisverwydering dienslewering verband hou.

AfriForum bly daartoe verbind om konstruktiewe gesprekke met plaaslike owerhede, gemeenskappe en belanghebbendes te hê, om positiewe uitkomste te bereik wat alle inwoners van die Tshwane-metro bevoordeel. Die organisasie se verbintenis tot die handhawing van gemeenskapswelvaart, aanspreeklikheid en omgewingsvolhoubaarheid dryf sy gewilligheid om die munisipaliteit te help ​​om hierdie dringende uitdagings te oorkom.

Soortgelyke plasings