Grens
|

Onwettige ontplooiing van grenswagte

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n brief aan die minister van Binnelandse Sake, dr. Aaron Motsoaledi, gestuur waarin hulle duidelikheid eis oor die proses wat gevolg is met die ontplooiing van grenswagte onder die bestuur van die Grensbestuursowerheid (GBO).

Volgens AfriForum is die relevante wetgewing, met betrekking tot die Wet op Grensbestuur, wat die Departement van Binnelandse Sake en die GBO sal bemagtig om hierdie wagte te ontplooi, nog nie in die Staatskoerant gepubliseer nie.

Ten spyte van die feit dat hierdie wetgewing nog nie in plek is nie, is die GBO-wagte na verskeie grensgebiede ontplooi en het hulle aktief voertuie gestop en deursoek en is ook met vuurwapens toegerus.

“As ons gevolgtrekking korrek is, en hierdie wagte ontplooi is voordat die vereiste wetgewing in die Staatskoerant bekend gemaak is, sal dit beteken dat die regering onwettig ’n  ongemagtigde eenheid na ons grensgebiede ontplooi het,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

“Dit sou beteken dat hierdie wagte tans minder magte het om ’n oortreder te arresteer as ’n gewone burger wat in hul persoonlike hoedanigheid optree,” sê Broodryk.

AfriForum is ook bekommerd oor die haastige opleiding wat hierdie wagte ontvang het asook die wyse waarop die wagte verkry is.

“Die lede van die GBO-wagte is blykbaar voormalige polisie- en militêre amptenare, maar of hulle die diens op ’n goeie voet verlaat het, is onbekend. Die indruk wat dit skep, is dat AfriForum se Grenswag-inisiatief soveel druk op die Departement van Binnelandse Sake geplaas het dat hulle kortpaaie geneem het om die wagte te ontplooi, in ’n poging om die indruk te skep dat hulle die land se ernstige uitdagings rakende grensveiligheid aanspreek,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings