|

Standerton-buurtwag help met Paasfees-verkeersvloei

Die AfriForum-buurtwag in Standerton het op 18 April in samewerking met Kasselman-sekuriteitsdienste en ander rolspelers gehelp om die verkeersvloei op dié dorp te verbeter.

Die Paasnaweek-verkeer terug na Gauteng en Limpopo het by massas vanaf Volksrust ingestroom. Daar was ook padwerke en paaie wat weens die Vaalrivier se stygende watervlakke gesluit was.

As gevolg van die druk verkeer het ’n erge opeenhoping in al die bane onstaan en die verkeersvloei belemmer.

Lede van die buurtwag is omstreeks 17:30 ontplooi om die Lekwa-verkeerspolisie en die plaaslike polisie te help om die verkeer te reguleer. Die verkeer wat teen 20:30 nog deur Standerton beweeg het, moes noodgedwonge buite die dorp voorgekeer word. In daardie tydperk het die druk verkeer in die dorp opgeklaar en omstreeks 22:00 kon die verkeer weer deur Standerton vloei.

“Buurtwaglede se goeie opleiding en beheer het ’n leidende rol gespeel om die situasie op te klaar,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Soortgelyke plasings