|

Debatspanne blink uit in suidstreeksuitdun van Dink of Sink-debatskompetisie

Eeue lank al word gevra wat die magtigste wapen is: die pen of die swaard. Die afgelope Vrydag het debatspanne van verskeie Wes-Kaapse hoërskole bewys dat die tong selfs nog magtiger as die pen en die swaard saam kan wees. Hulle het naamlik deelgeneem aan die suidstreeksuitdun van die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie wat by die Hoërskool DF Malan plaasgevind het. Dit was andermaal ’n reusesukses danksy die puik organisering van onderwyser Gert Visser en sy span.

In 2020 en 2021 moes die kompetisie noodgedwonge virtueel plaasvind, maar vanjaar kon die spanne uiteindelik weer in persoon kragte meet en tussendeur nuwe vriendskappe sluit.

Benewens die spanne van DF Malan, het junior en senior spanne van onder meer die Hoërskole Parel Vallei, Stellenberg, Stellenbosch, Hugenote, Paarl Gimnasium, Jan van Riebeeck, Tygerberg, Worcester Gimnasium, Langenhoven, Swartland, Durbanville, Paul Roos en Bloemhof aan die kompetisie deelgeneem.

Na afloop van die middag se uitdunne, het die vier beste senior spanne die aand in ’n semifinaal by ’n gala-geleentheid teen mekaar te staan gekom. Daarna het die twee beste junior en twee beste senior spanne uiteindelik gedebatteer om die suidstreek se wenspanne te bepaal.

Tydens die gala-geleentheid is al die deelnemers en gaste met smullekker verversings bederf terwyl hulle hulle verstom het aan die gaskunstenaar, Regardt Laubscher, se towerkuns. Laubscher is ’n alumnus van die Hoërskool DF Malan en hy het sy ervaring van die aand só opgesom: “Dis vir my ongelooflik om te sien hoe leerders so voor mense kan praat en dan nog debatteer ook. Ek sou dit nooit op daai ouderdom kon doen nie. Wat ’n wonderlike platform is die kompetisie nie vir kinders om hulle praatvaardighede te onwikkel nie.”

Nantes Kelder van De Goede Hoop-koshuis in Pretoria het as gasspreker ’n besielende boodskap oor lewenskeuses gebring en ouers en kinders herinner daaraan dat dit noodsaaklik is om mekaar se harte te leer ken. Tussendeur het Visser prettige uitdagings gebruik om boeke aan lede van die gehoor te skenk, maar ook die ernstige boodskap oorgedra dat die jeug meer moet lees.

Ná ’n fel debat tussen die toptwee junior spanne, het Emeri Botes, Mieke Jonker en Delinda Quinot van Stellenbosch se Hoër Meisieskool Bloemhof as wenners uit die stryd teen die Hoërskool Parel Vallei se Sebastian van Niekerk, Anneh Mitrovich en Matteo Wessels getree.

In die senior finale debat, was die wenners Megan Lourens, Ann-ne Venter en Jacobus Smuts van die Hoërskool Durbanville. Hulle opponente was Paul Roos Gimnasium se Dirk Guelpa, Steffan Thielen en Altus du Plessis.

AfriForum, as borg van die kompetisie en aanbieder van die nasionale finaal, is deur Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, en Nicolene Müller, Dink of Sink-konsultant, verteenwoordig. Hulle het hul dank aan al die deelnemers, die Hoërskool DF Malan en in die besonder aan Visser oorgedra vir die insette wat verseker dat die kompetisie na twee jaar weer met soveel sukses hervat word.

“Die spanne wat vandag hier was, se kennis van aktuele sake en hulle debatsvernuf het ons beïndruk en ons sien uit na die nasionale kompetisie wat op 8 Oktober 2022 in Centurion sal plaasvind,” het Bailey gesê.

Die laaste streeksuitdun vind vandag (14 September 2022) by die Hoërskool Montana in Pretoria plaas. Die uitslag daarvan en ook van die nasionale finaal op 8 Oktober sal op www.dinkofsink.co.za en AfriForumTV bekendgemaak word.

Soortgelyke plasings