|

Delportshoop-tak laat hulle nie deur hitte afskrik nie – verwyder 78 sakke vol vullis in November

Al het die temperatuur by 42°C gedraai tydens die AfriForum-tak in Delportshoop se maandelikse skoonmaak-aksie het hulle voortgegaan en 44 sakke vol vullis verwyder. In dieselfde week het die tak nog ’n verdere 34 sakke vullis verwyder om November af te sluit op ’n groot totaal van 78 sakke vol vullis wat deur hierdie tak verwyder is.

Die tak het in November daarop gefokus om Hanekom- en Delportshoopstraat skoon en netjies te maak. Elke maand word ’n area identifiseer waar dié tak dan moue oprol en aan die werk spring om dit netjies te maak.

Volgens Ben Venter, ondervoorsitter van AfriForum se Delportshoop-tak benut dié tak die geleentheid ten volle. “Ons sny gras, snoei die bome, trek onkruid uit en verwyder die vullis wat sommer net so gelos word. Ons wil graag ’n beroep op elke inwoner van Delportshoop doen om die area voor hul eie huise skoon te hou – dit help op die ou end om die algehele netheid van die dorp te verbeter.”

Nols Dreyer, voorsitter van AfriForum se Delportshoop-tak, nooi die gemeenskap om deel te neem aan dié tak se volhoubare projekte om sodoende die tak te help om hul doel te bereik – naamlik om die inwoners weer trots te maak op hulle dorp.  

“Ons kry baie goeie terugvoer oor ons volhoubare projekte en dit is lekker om te hoor maar ons kan dit nie sonder die gemeenskap se inkoop doen nie. As ons as gemeenskap saam inspring dan is die dorp sommer vinnig weer spoggerig,” sê Dreyer.

Die tak het ook die bourommel, tuinvullis en vullis wat langs die biblioteek op die hoek van Hanekom- en Kerkstraat opgegaar is, verwyder. ’n Bakkievrag vol vullis is ook uit die hoofstraat verwyder en vullis en onkruid is ook uit die sloot in Delportshoopstraat verwyder.

Gemeenskapslede wat graag by hierdie tak betrokke wil raak kan www.wordlid.co.za besoek of vir Lize-Mari van der Linden kontak by 081 217 6801.

Soortgelyke plasings