|

Diesel- en steenkoolkontrakte: Hof beveel Eskom om weerhoude inligting bekend te maak

Die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het Eskom vandag beveel om aangevraagde inligting rakende sy bestaande steenkool- en dieselkontrakte aan AfriForum bekend te maak. Die uitspraak volg nadat Eskom – sonder genoegsame verduideliking – geweier het om die inligting aan die burgerregteorganisasie beskikbaar te stel nadat ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) in Julie 2022 ingedien is. AfriForum vermoed dat die inligting vervat in hierdie kontrakte moontlik onreëlmatighede en korrupsie by die kragvoorsiener aan die lig kan bring.

AfriForum hou vol dat Eskom, synde dit een van die land se grootste en belangrikste staatsondernemings is, ’n regsplig het om deursigtig en aanspreeklik te werk te gaan. Daarom glo AfriForum dat die inligting wat in hierdie kontrakte vervat is, bekend gemaak moet word.

Eskom het tot 5 April 2024 om die inligting aan AfriForum bekend te maak. Intussen is die burgerregteorganisasie besig om ’n gespesialiseerde span bedryfs- en regsdeskundiges saam te stel wat die kontrakte oor die volgende paar maande noukeurig sal ontleed. Indien enige onreëlmatighede in die kontrakte gevind word, sal AfriForum hom beywer vir streng optrede teen die kragvoorsiener.

Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, verwelkom die hof se uitspraak en beskryf dit as ’n oorwinning en ’n deurslaggewende stap nader aan aanspreeklikheid en deursigtigheid in Suid-Afrika se energiesektor. “Kragonderbrekings teister Suid-Afrika al te lank. Burgers verdien ’n kragvoorsiener wat met integriteit funksioneer, nie een wat in korrupsie en wanbestuur gewikkel is nie.”

Deursigtigheid is onontbeerlik om die publiek se vertroue te handhaaf en om korrupte praktyke en wanadministrasie te verhoed. AfriForum bly daartoe verbind om die belange van die Suid-Afrikaanse publiek te beskerm en die land se demokratiese beginsels van deursigtigheid en aanspreeklikheid te handhaaf.

Soortgelyke plasings