| | |

AFRIFORUM SE MARBLE HALL-TAK STEL PETISIE OP TEEN ONWETTIGE PLAKKERSKAMP

Die AfriForum-tak in Marble Hall het ’n petisie opgestel teen ’n onwettige plakkerskamp in die Koteng-gebied. Luidens statistiek spruit die meeste misdaad in Marble Hall vanuit dié informele nedersetting weens misdadigers wat van daar af beweeg na die dorp.

AfriForum sal die petisie by die plaaslike polisie indien. Dié burgerregteorganisasie eis dringende optrede teen die plakkerskamp sodat misdaad in Marble Hall gestuit kan word. Die plaaslike inwoners se veiligheid en algehele welstand is van uiterste belang en misdadigers kan nie verder toegelaat word om inwoners van dié dorp te teister nie.

Inwoners kan AfriForum se petisie steun deur hul name by die petisie te voeg: https://afriforum.co.za/onwettige-plakkerskamp-in-koteng/.

Intussen moedig AfriForum die gemeenskap aan om by die plaaslike buurtwag betrokke te raak in ’n poging om misdaad in die gebied te bekamp. Gedurende Mei en Junie is altesaam 296 patrollies deur 41 patrollielede uitgevoer. Daar was in dié tyd sowat 100 vakante skofte wat gevul moet word.

“Ons moedig die gemeenskap aan om te help met buurtwagpatrollies. In Juniemaand is meer as drie insidente aangemeld. Ons versoek die gemeenskap om deel te word van die plaaslike buurtwag,” sê Magdèl Jansen van Vuuren, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

“’n Gemeenskap bestaan uit persone wat in hul eie reg funksioneer. ’n Gemeenskap is so sterk soos die persoon wat saamwerk aan die lewensdroom van die gemeenskap,” sê Jansen van Vuuren.

“Ons veiligheid hang af van die rol wat elkeen in ons gemeenskap speel en hoe betrokke ons is by gemeenskapsveiligheid. As ’n mens slegs kla oor die probleme in die gemeenskap is dit maklik om foute uit te wys. Kritiek is goed, maar dit moet gepaardgaan met harde werk om die foute saam op te los,” sê JP Otto, voorsitter van AfriForum se Marble Hall-tak.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se tak in Marble Hall: SMS jou naam na 45353 (R1) en maak op dié manier ’n positiewe bydrae.

Soortgelyke plasings