Dis-Chem-herrie: Ondersteun apteke waar jý en jou geld welkom is

Die burgerregteorganisasie AfriForum veroordeel die rassistiese personeelbeleid van Dis-Chem ten sterkste en moedig sy meer as 308 000 lede aan om eerder gemeenskapsapteke te ondersteun. AfriForum het ’n aanlyn platform, AfriForum Sakenetwerk, waar plaaslike ondernemings gelys en moeiteloos gevind kan word. Nou kan jy maklik jou plaaslike gemeenskapsapteek op hierdie lys opspoor.

“Dis-Chem is nie die enigste apteek in Suid-Afrika nie. AfriForum spoor sy lede en ondersteuners aan om hul plaaslike gemeenskapsapteek te ondersteun om sodoende hulle geld te laat praat!” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Dít kom nadat ’n interne memo deur Dis-Chem se uitvoerende hoof, Ivan Saltzman, uitgereik is waarin ’n moratorium op die aanstelling of bevordering van wit mense in Dis-Chem geplaas word.

“AfriForum ondersteun Solidariteit se regsaksie teen Dis-Chem, wat die weiering op die aanstelling en bevordering van wit mense in die hof gaan uitdaag. Dis-Chem se rassediskriminasie is skokkend en onaanvaarbaar. Daar moet ’n groter debat gevoer word rakende rassediskriminerendewetgewing en -beleide in Suid-Afrika. Dis hoogtyd dat hierdie beleide veroordeel en uiteindelik afgeskaf word,” sluit Van Zyl af.

Die publiek kan hulle plaaslike gemeenskapsapteek vind by www.afriforumsakenetwerk.co.za. AfriForum moedig gemeenskapsapteke aan om gratis op hierdie platform te registreer.

Soortgelyke plasings