|

Ventersdorp-tak verwyder agt ton rommel in ’n maand

Die AfriForum-tak in Ventersdorp het gedurende Mei voortgegaan in hul poging om die dorp rommelvry te maak en altesaam 296 vullissakke vol rommel verwyder. Daar is ook twee munisipale asblikke leeggemaak en 10 bakkievragte rommel weggery. Ongeveer 8,5 ton se rommel is uiteindelik in Mei verwyder. Strate wat skoongemaak is, sluit in die hoek van Graaf- en Koekemoerstraat, Spruitstraat, die hoek van Voortrekker- en Graafstraat, die hoek van Voortrekker- en Koekemoerstraat, Markstraat, die hoek van Berg- en Carmichaelstraat, Bergstraat, Carmichaelstraat, Wilsonstraat en Van Riebeeckstraat.

Ondanks borde wat mense aanmoedig om nie rommel te strooi nie moes sekere dele van die dorp weer skoongemaak word. Daar word gevra dat die gemeenskap sal saamwerk om die dorp skoon te hou. Die tak en buurtwag het ook ingespring en skoongemaak nadat daar onluste in die dorp was en rommel oral rondgestrooi was. Die AfriForum-buurtwag het bykomende patrollies gery om die gemeenskap en die sleutelpunte in die dorp te beskerm.

Hierdie projek het ook ’n werksgeleenteheid geskep aan twee werkers, Vivian Moate en Stevin Makokwe, wat op ’n daaglikse basis gehuur word om rommel op te tel. Hierdie twee mans het aanvanklik geld deur herwinning verdien; nou kan hulle meer herwinbare materiale versamel, ’n dagloon verdien en ook kos kry.

“Dis lekker om te sien hoe slegs ’n paar mense wat omgee ’n verskil in ’n dorp kan maak. Ventersdorp lyk al stukke beter. Baie dankie aan Johan Pretorus, die omgewingsakebeampte van die Ventersdorp-tak, wat hierdie inisiatief lei. Ek vra die gemeenskap om hande te vat met die tak en betrokke te raak by hierdie aksies. Saam is ons sterker,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

SMS “Ventersdorp” na 45344 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings