|

Dokumentêre film Tainted Heroes skop af met fase een van verspreidingstrategie

Tainted Heroes, die dokumentêre film wat handel oor die ANC se oneerbare verlede tydens die struggle, is Woensdagaand vertoon by Monte Casino in Johannesburg op die vooraand van 16 Junie 2016– presies 40 jaar sedert die Soweto-opstande van 1976.

Die vertoning vind plaas as deel van die eerste fase van die burgerregte-organisasie se filmverspreidingstrategie, waar die dokumenter in teaters regoor Suid-Afrika vertoon sal word. ’n Wêreldtoer sal ook later vanjaar afskop, waar vertonings van die film onder meer in Washington, D.C., Londen en Perth plaasvind. Massa DVD-verspreiding in Suid-Afrika word ook in die vooruitsig gestel as fase drie van die verspreidings plan.

Die dokumenter vertel die verhaal van hoe die African National Congress (ANC) – aanvanklik ’n gemarginaliseerde organisasie in die Suid-Afrikaanse politieke landskap – in die nadraai van die Soweto-opstande van 1976 uiteindelik aan bewind gekom het. Die film verduidelik hoe die ANC ’n voorafopgestelde program van geweld, vrees en propaganda suksesvol geïmplementeer het om politieke teenstanders uit te skakel en homself as die enigste verteenwoordiger van swart aspirasie in Suid-Afrika te vestig.

Ernst Roets, uitvoerende hoof van Forum Films en vervaardiger van Tainted Heroes, het tydens die geleentheid verduidelik dat hierdie tema aangepak is om die politieke debat in Suid-Afrika in perspektief te plaas.

“Die manier waarop Suid-Afrikaanse geskiedenis geleer word in skole, gevier word tydens publiekevakansiedae en die wyse waarop dit bespreek word in die parlement, is gereeld eensydig.”

Roets meen Tainted Heroes wys dat die geskiedenis nie so eenvoudig is soos wat die ANC vandag voorhou nie en slegs een narratief van die verlede aanvaar en handhaaf word as die enigste weergawe van die geskiedenis.

“Die ANC en sy leiers was verseker nie vlekkelose helde nie. Net so kan dié wat buite die ANC-kamp was ook nie so maklik as boos afgemaak word nie.”

Hy het voorts gesê die geskiedenis is vandag ʼn wapen in Suid-Afrika, wat gebruik word om politieke doelwitte te bereik. “Hiermee word sekere gebeure van die geskiedenis herdenk en ander word onder die mat gevee en vergeet.”

Die film is vir die eerste keer in Januarie vanjaar vertoon, maar nie sonder kritiek nie. Roets verduidelik dat sekere organisasies oortuig daarvan was dat die dokumenter ten doel was om die ANC te diskrediteer. “Daar is vir ons na afloop van die eerste vertoning gesê dat die film nie produktief is nie, dat dit nie ʼn bydra lewer tot nasiebou nie en dat dit ou wonde onnodig oopkrap. Ons intensie was nooit dat die film die hele verhaal van ons geskiedenis is nie, maar egter fokus op die dele wat gereeld uitgelaat en geïgnoreer word.”

Dit film sal verder as deel van fase een plaaslik vertoon word by Mooi Rivier Mall in Potchefstroom (25 Julie), Mimosa Mall in Bloemfontein (27 Julie) en Canal Walk in die Wes-Kaap (8 Augustus).

“Ons is geëerd en opgewonde om uiteindelik by die punt te wees waar ons die film kan begin vertoon en versprei.”

Mizanne van Niekerk, ʼn onderwyser van Pretoria het na afloop van die vertoning aan Forum Nuus gesê dat die film vir haar onstellend, insiggewend en treffend was.

“Die film was vir my baie treffend en daar is baie dele van die geskiedenis waarvan ek nie bewus was nie, ek voel nie ons is as kinders ooit 100% ingelig oor ons geskiedenis nie.”

Sy se voorts dat dit vir haar skokkend was om te sien hoeveel geweld werklik plaasgevind het.

“Ek dink tog ook dit is belangrik, soos Ernst Roets gesê het, om nie vas te klou aan enige weergawe van die geskiedenis as die enigste narratief daarvan nie. Dit was net baie interessant om vir eens die deel te sien wat uit my skool se geskiedenis boeke gelaat is.”

Soortgelyke plasings