|

Samesprekings met minister Zokwana lyk belowend

“Na gister se ontmoeting lyk dit asof die minister van landbou, bosbou en visserye en die polisie ernstig is om in te gryp en oplossings te bied in die stryd teen plaasmoorde.”

Só het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie AfriForum, gesê oor samesprekings tussen belangegroepe, die polisie en die departement van landbou, bosbou en visserye om plaasmoorde te voorkom.

Volgens Roets was die idee van die samesprekings om al die verskillende en relevante rolspelers aan boord te kry om saam insette te lewer oor die stryd teen plaasmoorde.

Die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI), AgriSA, TLU SA, die vakverbond Cosatu en die Vereniging van Swart Boere (Afasa) was van die partye wat die geleentheid bygewoon het.

“Oor die algemeen was die insette van die verskillende rolspelers baie sinvol en positief. Uiteraard praat almal uit verskillende hoeke en daar was ʼn sterk poging om dit oor die boeg van arbeidsgeskille en uitbuiting van werkers te gooi, maar die minister en waarnemende polisiekommissaris het gesê plaasmoorde gaan oor kriminaliteit en nie werkdispute nie,” meen Roets.

Die gesprek is deur mnr. Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, gereël na afloop van vroeëre samesprekings met AfriForum. “AfriForum stel vir ons ʼn goeie voorbeeld van misdaad bekamping. Ons (die regering) kan nie hierdie stryd alleen aanpak nie,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat plaasmoorde en aanvalle ekonomiese groei, voedselsekerheid en werksgeleenthede kan belemmer.

Bheki Cele, adjunkminister van landbou, het tydens die geleentheid gesê dat dit belangrik is om ons land se boere te beskerm en lt.genl. Khomotso Phahlane het bygevoeg dat dit ontoelaatbaar is dat plaasaanvalle en -moorde teen dié tempo plaasvind.

Phahlane het tydens die geleentheid ook beklemtoon hoe belangrik samewerking tussen die polisie en ander relevante rolspelers in die stryd teen plaasmoorde is.

“Ons vorige samesprekings met AfriForum en AgriSA het vrugte afgewerp en ons kan sien dat hierdie organisasies toegewyd is om oplossings te vind vir die probleme wat ontstaan rondom plaasmoorde.”

Hy het ook die belangrikheid van boere en die landboubedryf uitgelig. “Ons almal sê dat pap en vleis ons gunsteling maaltyd is, maar ons vergeet egter soms dat vleis en mielies albei deur boere geproduseer word.”

Die polisie het ook tydens die geleentheid ʼn voorlegging gedoen rondom hul strategie om plaasaanvalle en -moorde te bekamp. Die voorlegging het onder andere die polisie se syfers vir plaasaanvalle en -moorde tussen 2010 en 2016, ʼn analise van aanvallers se modus operandi, asook inligting rakende die SAPD se landelike veiligheidstrategie ingesluit.

Roets het ook gesê dat AfriForum in die toekoms hulpbronne in terme van opleiding en toerusting, waar moontlik, beskikbaar sal stel.

“AfriForum sal aanhou om deur navorsing en veiligheidstrukture die polisie by te staan in die stryd teen plaasmoorde.”

 

 

 

 

Soortgelyke plasings