|

Nuwe AfriForum-waterpunt laat Belfast op 25 000 liter noodkapasiteit te staan kom

AfriForum se Belfast-tak het in Maart nóg ’n waterpunt op dié dorp laat installeer sodat nóg meer inwoners toegang tot water het wanneer die krane vir dae lank leegloop. Die splinternuwe waterpunt is in Duggenstraat geïnstalleer en spog met ’n boorgat en 5 000 liter-watertenk. Nóg ’n 10 000 liter-watertenk is aangekoop om by die bestaande waterpunt in Dahliastraat te voeg. Dié waterpunte laat die dorp se totale noodkapasiteit nou op 25 000 liter te staan kom.

Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, sê die nuwe waterpunt spruit uit inwoners se behoefte aan water tydens beurtkrag en ander onbeplande wateronderbrekings. Die inwoners van Belfast sit gereeld sonder lopende water weens dié onderbrekings. Die nuwe waterpunt stel egter inwoners in staat om maklik water te bekom. Dit is boonop gratis en kan deur enigiemand vir huishoudelike doeleindes gebruik word.

“Die Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit se gebrek aan dienslewering en swak bestuur veroorsaak dat inwoners gereeld sonder water sit. AfriForum weier om toe te kyk hoe die gemeenskap swaarkry as gevolg van  infrastruktuur wat nie onderhou word nie. AfriForum se nuwe waterpunt en -tenk gaan egter help om die gemeenskap in hierdie tyd te ondersteun,” sê Van Heerden.

AfriForum se Belfast-tak het reeds met die munisipaliteit vergader oor die waterprobleme op die dorp. Die burgerregteorganisasie het onder meer daarop aangedring dat die munisipaliteit deursigtig is oor die waterprobleme op die dorp en die inwoners vroegtydig oor wateronderbrekings in kennis stel. Die munisipale bestuur het onderneem om dít so ver moontlik te doen.

“AfriForum is daartoe verbind om druk op die munisipaliteit te plaas om die waterinfrastruktuur in die gebied te verbeter en nog waterpunte vir die gemeenskap op te rig,” sê Van Heerden.

Raak vandag nog by die Belfast-tak betrokke sodat daar ’n beduidende verskil in dié dorp gemaak kan word. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings