|

Dullstroom-tak verlig dorpstrate met nuwe projek

Suid-Afrika is as gevolg van beurtkrag en ander kragprobleme telkens in die donker. Kragonderbrekings bring daarmee saam talle veiligheidsrisiko’s veral in die aand. AfriForum se Dullstroom-tak het ’n nuwe projek begin wat gaan help om van hierdie veiligheidsrisiko’s te beperk. Dié tak het reeds ses van twintig straatligte in die dorp opgerig wat met sonkrag werk.

Die nuwe straatligte is onder meer by Laerskool Dullstroom en by die Dullstroom-polisiekantoor opgerig. Hierdie ligte gaan help om sigbaarheid in die omgewing te verbeter sodat die donker nie vir misdadigers nóg ’n geleentheid skep om misdade te pleeg nie.

“Die impak van beurtkrag het ons genoodsaak om hierdie projek aan te pak. Wanneer daar beurtkrag in die dorp is, is meeste van die straatligte in die dorp af en dit gee vir misdadigers genoeg ruimte om dan vrylik rond te beweeg. Die veiligheid en welstand van ons gemeenskap is ons eerste prioriteit en ons is dankbaar vir die ondersteuning en samewerking wat ons van die gemeenskap af ontvang met hierdie inisiatief,” sê Stephan Joubert, buurtwagvoorsitter van AfriForum se Dullstroom-tak.

Die Dullstroom-tak nooi die gemeenskap uit om deel te neem aan die tak se projekte by www.wordlid.co.za

Soortgelyke plasings