|

Durbanville-tak stig buurtwag, ontvang veiligheidstoerusting en -opleiding

AfriForum se Durbanville-tak het op 6 Julie die nuutgestigte Durbanville-buurtwag met veiligheidstoerusting toegerus en veiligheidsopleiding aan sy lede verskaf.

Durbanville ondervind tans talle uitdagings met misdaad – veral in die sakekern. Inwoners kla al ’n geruime tyd dat dit uiters onveilig geraak het; soveel so dat mense dit nie na-ure in die sakekern waag nie. Einde Junie het tien inbrake binne een week by ondernemings plaasgevind. Gevolglik het die gemeenskap besluit genoeg is genoeg en iets moet aan die kwessie gedoen word.

Daarom het die tak besluit om ’n buurtwag op die been te bring wat hoofsaaklik op die sakekern sal fokus, maar terselfdertyd die woonbuurte sal beveilig. AfriForum se streekkantoor in Durbanville het toegetree met inisiatiewe om verskeie rolspelers te betrek, waaronder ander buurtwagte, gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s), privaat sekuriteitsmaatskappye, plaaslike wyksbesture, die Durbanville Sakekamer, asook die plaaslike SAPD.

Bykans 40 nuwe kringtelevisiekameras word binnekort geïnstalleer, terwyl tegnologie soos hommeltuie ook ingespan sal word. CDF-sekuriteitsmaatskappy stel op hulle eie onkoste wagte aan en stel ook ’n volledig toegeruste reaksievoertuig beskikbaar. Verder sal daar van radiokommunikasie gebruik gemaak word sodat groepe vinnig met mekaar in verbinding kan tree en tot optrede kan oorgaan. Op 7 Julie het die nuwe buurtwag ook noodsaaklike toerusting ontvang.

Verlede week het dié buurtwag opleiding ontvang om patrollies doeltreffend uit te voer en hulpmiddels korrek te gebruik. Johan Crous, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus, het die opleiding behartig. Opleiding oor die uitvoer van operasies, regsaspekte, radiokommunikasie, vuurwapenwetgewing, toneelhantering, huis-en-haardbeskerming, administrasie, steunstelsels, asook doeltreffende bevel en beheer is ook verskaf.

“Opleiding by AfriForum is ’n hoë prioriteit, want dit versterk ons gemeenskappe en stel hulle in staat om doeltreffend saam met die plaaslike SAPD te werk en ander rolspelers te ondersteun,” sê Crous.

“Durbanville se veiligheid is ’n hoë prioriteit vir my en om deel te wees van hierdie buurtwag is ’n voorreg juis omdat AfriForum reeds ’n goed gevestigde en georganiseerde netwerk van meer as 160 buurtwagstrukture landwyd het. Dit is onbetwisbaar dat AfriForum oor kundiges in veiligheid beskik en ’n sterk regspan het wat hul buurtwagte ondersteun en adviseer,” sê Leendert Stoop, voorsitter van AfriForum se Durbanville-tak en -buurtwag.

Lede van die publiek word aangemoedig om by hul naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit om sodoende hul omgewing te beveilig: Skakel Leendert Stoop by 074 513 6199.

Soortgelyke plasings