|

Híér is die wenners van vanjaar se Besigheidsbytjies- en Juniorpreneurskompetisie

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Besigheidsbytjiesspan het op 10 Julie vanjaar se wenners van die Besigheidbytjies- en Juniorpreneurskompetisie aangekondig. Die kompetisie bestaan uit twee kategorieë vir onder meer laerskoolleerders (Hommelbytjies-kategorie) en hoërskoolleerders (Juniorpreneurs-kategorie).

Baie geluk aan die volgende wenners:
Kategorie 1 (grondslagfase)
• Wenner: Immeke Nel van Gqeberha (Immie’s Gifts). Hierdie graad 1-leerder verkoop geskenke wat sy self maak.
• Naaswenner: Jandré en Ruben Botha van Stellenbosch (Good Food). Hierdie graad 3-leerders bak suurdeegbrood en lewer vars aan hul gemeenskap af. Daar is nie ’n winkel in hulle omgewing wat vars brood verkoop nie.
Kategorie 2 (intersenfase)
• Wenner: Chani Britz van Bloemfontein (Koekies & Krummels). Hierdie graad 6-leerder verkoop koekie-fudge.
• Naaswenner: Mienke Maritz van Bloemfontein (Mienke Meel). Hierdie graad 6-leerder verkoop klaargemaakte vanielje- en sjokolade-botterversiersel.
Kategorie 3 (hoërskole – graad 8 en 9)
• Wenner: Engelize Botha van Pretoria (Zoemsalf). Hierdie graad 7-leerder verkoop salf vir droë lippe, droë akneekolle, letsels, en skaaf-, seer- en bytplekke.
• Naaswenner: Desiree Maree van Orania (Desire Naald en Garing). Hierdie graad 8-leerder herstel en maak klere.
VOO-fase (hoërskole – graad 10 tot 12)
• Wenner: Nina Wärnich van Pretoria (nini). Hierdie graad 10-leerder verkoop handgemaakte krale hangertjies en sonbril-toutjies.
• Naaswenner: Quan du Plooy van Springs (MooiHout Meubels). Hierdie graad 11-leerder se idee vir ’n onderneming is om ou houtmeubels in nuwe unieke houtmeubels te omskep.

Die beoordelingsdag het op 7 Julie by die OpiKopi Gastehuis in Pretoria plaasgevind. Die beoordelaars van dié kompetisie het verskeie onafhanklike persone en kenners ingesluit wat ook as borgskap van vanjaar se kompetisie gedien het. Hulle is Johan Olivier, besturende direkteur van Moneytime Kids en MyLife; Mareli Swanepoel, bestuurder van die projekte-afdeling by Akademia; Esmarie Yssel, omroeper by Pretoria FM; Hui-Mari Meyer, jeugspesialis van WIRED – Flip the switch!, en Lesley-Anne van Eeden, ontwerper en eienaar van Matt & Milly.

“Ek is dankbaar dat ek my kategorie in die Besigheidsbytjies-kompetisie gewen het. Ek gaan vir al my maatjies sê om volgende jaar in te skryf. Ek was baie opgewonde om vanoggend saam met my gesin op Pretoria FM te luister na wie die wenners is en toe hulle my naam noem, het ek kliphard van blydskap geskreeu. Die kompetisie het my gemotiveer om meer in myself te glo en dat ek ’n nóg groter sukses van Koekies & Krummels kan maak! Ek het baie hieruit geleer. Dankie aan almal wat vir my gestem het en vir die beoordelaars wat my as die wenner gekies het,” sê Chani, wenner van die intersenfase.

“’n Welvarende toekoms en finansiële onafhanklikheid in die land gaan toenemend gepaard met ondernemingsgees. Vanjaar se meer as 50 inskrywings het gewys hoe skeppend ons kinders is. Ons het jongmense gesien wat van salf ontwikkel vir gimnaste, meisies wat klere verstel en ánder wat ontwerpershuisitems met tou vleg óf blatjang kook. Elke inskrywing dui daarop dat ons hier te make het met ’n generasie kinders wat fluks is en bereid is om hard te werk om vir hulleself ’n blink toekoms oop te werk,” sê Yssel.

“Hier by AfriForum is ons beïndruk om so baie jong entrepreneurs te sien wat werklik ’n passie het vir entrepreneurskap. Die deelnemers het ons werklik verbaas met hul innoverende idees, produkte en/of dienste. Hulle is jongmense wat reeds die vaardigheid het om ’n gaping in die mark te identifiseer en is beslis in die kol om daardie behoeftes te takel en te vul. Ons wens ons wenners, sowel as elke deelnemer van die kompetisie, alle sterkte toe met die toekoms en sukses van hulle sakeondernemings! Ek glo hulle inspireer ander jongmense deur hul eie entrepreneursgees,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir Jeugleierskap.

AfriForum het reeds in 2019 die Besigheidsbytjies-kompetisie vir laerskoolleerders begin. Die kompetisie is intussen uitgebrei deur ook voorsiening te maak vir hoërskoolleerders met ’n passie en kop vir sake.

“Nadat AfriForum Sakenetwerk in 2017 die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie begin het, het ons gesien dat daar ook kinders is wat graag wil deelneem om hul entrepreneursvaardighede ten toon te stel. Dit is die vierde jaar wat ons die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie aanbied. Dis verblydend om te sien hoe die belangstelling jaarliks vermeerder en dat kinders ook raaksien hoe belangrik ondernemings vir die ekonomie van Suid-Afrika is,” meen Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.

Soortgelyke plasings