|

Brutale plaasmoorde dwing gemeenskappe om te mobiliseer terwyl regering ander pad kyk

Die burgerregteorganisasie AfriForum doen ’n dringende beroep op boere en landelike inwoners om hul veiligheid en paraatheid op te skerp. Volgens dié organisasie was daar die afgelope week minstens sewe plaasmoorde landswyd. Die afgelope naweek alleen is daar vier mense vermoor in twee aparte voorvalle. In beide insidente is bejaardes geteiken.

Hennie en Anneke Claassen is wreed gemartel en vermoor op ’n plaas buite Ohrigstad, terwyl Pierre en Belinda de Kock op hul plaas buite Piketberg vermoor is.

Die organisasie betuig sy innige meegevoel met die familie en vriende van die slagoffers.

“AfriForum maan boere en landelike inwoners om dringend by hul plaaslike buurt- of plaaswagte betrokke te raak. Die enigste manier om hierdie gruwelike aanvalle hok te slaan, is vir gemeenskappe om te mobiliseer en hul paraatheid te verskerp,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Die wreedaardige manier waarop hierdie misdade uitgevoer word, is ’n duidelike aanduiding dat dit nie net gewone misdaad is nie. AfriForum sal aanhou om druk op die regering te plaas en te eis dat plaasaanvalle as ’n prioriteitsmisdaad verklaar word en die nodige aandag van die owerhede geniet,” sluit Broodryk af.

Volgens die organisasie is dit hoogtyd dat president Cyril Ramaphosa en ander politici die erns van die probleem erken.

Sluit aan by jou naaste AfriForum buurtwag by www.afriforumbuurtwag.co.za.

Soortgelyke plasings