|

Worcester-tak vat Erfenisdag en die plant van bome verder

AfriForum se Worcester-tak het op 24 September twee kompetisies geloods om die gemeenskap by Erfenisdag en die plant van bome betrokke te kry.

Vir die eerste kompetisie het hulle die gemeenskap gevra om onder meer foto’s van tuisgemaakte koeksisters en ou voertuie in te stuur om die nostalgie van hul erfenis weer te gee. Die tien wenners het elk ’n sak kompos en ’n naartjieboom (Citrus tangerina) ontvang. Vir die tweede kompetisie was die gemeenskap gevra om ’n foto van hulle Braaidag se samesyn en bykosse in te stuur. Hierdie tien wenners het elk ’n lemoenboom (Citrus aurantium) as prys ontvang.

“Ons is baie dankbaar vir Paul Moller van Wise Gardner wat die twee kompetisies moontlik gemaak het,” sê Morné le Roux, voorsitter van die Worcester-tak.

“Dit is vir ons as tak belangrik om goeie bande met instansies en ondernemings in die Worcester-omgewing te bou om sodoende ’n goeie en gesonde gemeenskap te bevorder,” sluit Le Roux af.

Die Worcester-gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak en ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskap te maak: SMS “Worcester” na 45350 (R1) om vandag nog aan te sluit.

Soortgelyke plasings