|

Standerton-buurtwag woeker om dorp veiliger te maak

Die AfriForum-buurtwag in Standerton het op Saterdag 9 September ’n verdagte aangekeer wat verbind word met ’n rooftog wat vroeër daardie dag by Bala-Bala plaasgevind het. Een van die buurtwaglede was op pad huis toe toe hy die voortvlugtige opgemerk het. Die verdagte is aan die polisie oorhandig en in hegtenis geneem.

“Ons sal aanhou veg teen die vlaag van misdaad in Standerton en ons vra dat die publiek hande vat en ons met hierdie inisiatief ondersteun,” sê Leon Enslin, voorsitter van AfriForum se Standerton-tak.

Intussen het die Standerton-buurtwag patrollies in die nuutste vlaag van beurtkrag geloods wat dié dorp – en die res van die land – in donker hul. Hierdie patrollies vind elke aand tydens beurtkrag plaas sedert die verhoogde fases op 6 September aangekondig is. Dít volg nadat misdadigers blitsvinnig van hierdie geleentheid gebruik gemaak het deur kragkabels te steel, maar die buurtwag se patrollies het gehelp om die situasie vir Standerton-inwoners te verbeter. Die patrollie is in samewerking met lede van die plaaslike VF Plus en Kasselman Security Services van stapel gestuur.

Die kragkrisis het ook tot watertekorte in Standerton gelei waarna die AfriForum-tak water aan verskeie dele van die dorp beskikbaar gestel het. Daar is ook aan Ampath water voorsien.

Inwoners word versoek om AfriForum Standerton te ondersteun, besoek: www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings