|

Enkele plekke nog beskikbaar vir Helpende Hand se tuisversorgingsopleiding

Daar is nog ’n paar plekke beskikbaar vir Solidariteit Helpende Hand se tuisversorgingsopleiding. Die volgende inname van dié ses maande kursus is 14 Februarie en kos R10 000. Studente wat keuring ontvang sal ook vir studielenings kan aansoek doen.

Helpende Hand het in 2021 die kursus vir die eerste keer aangebied ná hulle oorval is met versoeke van mense wat ’n behoefte aan tuisversorging het.

Dr. Elsha Hermann, hoof van navorsing, programme en opleiding by Helpende Hand, is van mening dat om ’n versorger te wees, nie ’n beroepsloopbaan is nie maar ’n leefwyse. “Versorgers moet kop-mense wees. Hulle moet nugter denkers wees wat met wysheid optree en onderskeidingsvermoë het.”

Indien die kursus suksesvol voltooi word, kan die betrokke student as tuisversorger of as versorgingshulp in tehuise of residensiële instansies in diens geneem word. Die student kan ook privaat werk onderneem, hulself verder as ’n au pair, of selfs palliatiewe sorg verrig.

Die minimum vereistes vir voornemende kursusgangers is gr. 10 en die kursus word in Afrikaans aangebied. Die student moet ook ’n besonderse liefde en omgee vir hul medemens hê en self fisiek en geestelik gesond wees.

Studente wat die opleiding suksesvol voltooi sal Sektor Onderwys en Opleiding Owerhede (SETA)-akkreditasie ontvang met ’n totaal van 37 krediete. Temas wat behandel word sluit onder meer die ondersteuning van die kliënt en ander om tuisversorging te bestuur, die toepas van beginsels vir palliatiewe sorg wanneer jy die kliënt en familie help om lewensbedreigende siektes te hanteer, kennis van die voorsiening en implementering van primêre gesondheidsorg en basiese lewensondersteuning in.

Bywoning van teoretiese klasse, aanlyn sessies en praktiese opleiding is verpligtend. Klasse word in Bloemfontein en Pretoria aangebied met die praktiese komponent wat by geïdentifiseerde instansie aangebied sal word. Helpende Hand sal die nodige reëlings tref om die praktiese opleiding te voltooi. Praktiese ervaring is noodsaaklik om die student die selfvertroue te gee om ná afloop van die kursus dienswerk te begin doen.

Ekstra kurrikulêre kursusse word ook aangebied om kommunikasievaardighede, konflikhantering en veiligheidsmaatreëls te verbeter.

Vir meer inligting of om aansoek te doen, besoek www.helpendehandopleiding.co.za of stuur ’n e-pos na diens@helpendehand.co.za.

Soortgelyke plasings