|

Germiston-buurtwag trek twee verdagtes binne 24 uur vas

AfriForum se Germiston-buurtwag het op Vrydag 3 Februarie die polisie in Primrose aan die Oos-Rand gehelp om twee verdagtes vas te trek. Die polisie het daardie dag ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van hierdie verdagtes uitgereik.

Die Primrose-polisie het die buurtwag om hulp genader in verband met die arrestasie van twee verdagtes wat onder meer betrokke was by die kwaadwillige beskadiging van eiendom. Die inligting is onmiddellik aan al die Germiston-buurtwaglede deurgestuur en die eerste verdagte is nog dieselfde dag opgespoor en in hegtenis geneem. Die ander verdagte is die volgende dag (Saterdag 4 Februarie) deur ’n patrolleerder geïdentifiseer. Die patrolleerder het hulp versoek en die buurtwaglede het vinnig ’n plan beraam om hierdie verdagte ook in hegtenis te neem. Die buurtwaglede se goeie samewerking het gelei tot die inhegtenisneming van albei vermeende misdadigers binne 24 uur.

“Ek is baie trots op wat AfriForum se Germiston-buurtwag in die gemeenskap vermag. Hierdie tipe sukses is ’n bewys daarvan van hoe ’n gemeenskap met goeie samewerking sy eie veiligheid effektief kan bevorder,” sê Jurie Ferreira, distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Die Germiston-tak doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak om hul gemeenskap te help. SMS “Germiston” na 45340 (R1) om aan te sluit en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings