Eskom se 35%-prysverhoging sal ekonomie skok


Die burgerregte-organisasie AfriForum veroordeel Eskom se beplande 35%-elektrisiteitsprysverhoging sterk. Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) sal op 21 Junie bekend maak of die sukkelende elektrisiteitsreus daarop geregtig is om ’n bykomende R66 miljard vir onvoorsiene uitgawes van verbruikers te verhaal.
Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê Eskom en die regering se probleme en wanbestuur word te maklik op verbruikers afgeskuif.

“Baie van Eskom se probleme is selfgeskep. Ondanks ondersoeke en oënskynlike regstellende maatreëls wat onderweg is, is daar nog nie duidelikheid nie oor hoe die elektrisiteitsvoorsiener se probleme getakel gaan word, buiten om die verbruiker deur hoër elektrisiteitstariewe of belastings daarmee op te saal. Die uitgawes is verder nie onvoorsien nie, maar te wyte aan wanbestuur en wanbesteding.”

Volgens Brink moet Eskom sy skuld by munisipaliteite insamel, korrupsie hokslaan en ook die grootte en aard van sy werksmag en vergoedingstrukture hersien.

“Om elektrisiteitstariewe met meer as 30% te verhoog, sal uiters nadelige gevolge vir verbruikers inhou, asook ’n wyer rimpeleffek op die ekonomie, voedselpryse en inflasie hê. Dit sal uiteindelik gewone mense met minder besteebare inkomste laat, terwyl daar slegs vae planne van Eskom se kant af is om kostes en ondoeltreffendheid te besnoei.”

Brink kritiseer ook vir Nersa weens toegewings aan Eskom. Die aanhoor van drie aansuiweringsaansoeke is skielik deur Nersa vervroeg sodat munisipaliteite die nuwe beplande prysverhoging vanjaar nog by hul begrotings kan insluit. Volgens die energiereguleerder hou hierdie vervroeging verband met ‘interne prosesse’. Dít is egter ’n onvoldoende en ondeursigtige antwoord.

“Eskom se staatsgewaarborgde monopolie moet daarbenewens verbreek word en Suid-Afrika het uiteindelik ’n meer diverse elektrisiteitsektor nodig waar meer elektrisiteitsverskaffers vir markaandeel kan meeding. Die verbruikers, ekonomie, sakesektor en werksmag sal dán die wenners wees.”

Soortgelyke plasings