|

Flou Nasionale Polisiëring-konsepbeleid bied geen werkbare strategieë nie – AfriForum

’n Flou konsepbeleid met oppervlakkige oplossings – dít meen die burgerregteorganisasie AfriForum is in ’n neutedop die bestek van die konsepweergawe van die Nasionale Polisiëringsbeleid (NPP). Dié konsepbeleid is onlangs deur die Burgerlike Sekretariaat vir Polisiediens gepubliseer. AfriForum het vandag sy kommentaar daarop ingedien en beklemtoon daarin dat ’n alternatiewe benadering – deur middel van desentralisasie en ’n meer federale benadering tot polisiëring – nou noodsaaklik is.

Volgens dié burgerregteorganisasie worstel Suid-Afrika tans met ’n omvangryke openbare veiligheidskrisis wat ’n ernstige bedreiging vir die kernbeginsels van sy grondwetlike demokrasie inhou.

Die finansiële impak van geweld in die land is boonop ’n verdere kommerwekkende aspek. Volgens die Global Peace Index vir 2023 is Suid-Afrika vyftiende op die ranglys van lande wêreldwyd wat die swaarste aan die ekonomiese las van geweld dra. Geweld beroof die land in hierdie stadium ’n geskatte 15% van sy totale bruto binnelandse produk (BBP).

Daarbenewens het voortdurende misdaad reeds die vorm van ’n maatskaplike siekte aangeneem wat burgers elke dag op ’n direkte of indirekte manier raak. Die omvang en erns van misdaad in Suid-Afrika toon duidelik dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) homself ondoeltreffend en onbekwaam bewys het om geweld en misdaad in ons gemeenskappe te polisieer.

“Gegewe die omvang van die probleem, is die konsepbeleid uiters teleurstellend. Die dokument is vaag in sy ontleding. Dit identifiseer kernkwessies soos hoë misdaadvlakke, gebrek aan vertroue in die polisie, lae moraal onder beamptes en nalatigheid, maar bied geen konkrete oplossings of voorstelle oor hoe om hierdie uitdagings die hoof te bied nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Benewens die tekort aan konkrete oplossings, is die konsepbeleid se oënskynlike pogings om die mag van beamptes wat as deel van die Wes-Kaap se program vir die bevordering van wetstoepassing (Leap) funksioneer, in te perk, baie kommerwekkend. Lede van dié program, wat in 2020 in samewerking met Stad Kaapstad begin is, het reeds ’n uiters waardevolle en suksesvolle bydrae in die bekamping van misdaad in Kaapstad gemaak en toon voorts ook dat die afwenteling van polisiëringsmag tot op provinsiale of munisipale vlak wel vrugte kan afwerp. AfriForum wys in sy kommentaar oor die konsepbeleid onder meer daarop dat provinsies se unieke uitdagings juis beter getakel sal kan word indien provinsies die mag het om polisiëring in hul eie hande te neem. 

“Weens wanbestuur en politieke inmenging kan die SAPD nie meer sy mandaat nakom nie. Nou wil hulle ook inmeng met ander suksesvolle misdaadbekampingsinisiatiewe. Dit maak eenvoudig nie sin nie. Daar is steeds baie toegewyde polisiebeamptes wat hul bes op grondvlak doen. Swak politieke leierskap en vae beleid belemmer hul pogings,“ sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings