|

Forum Nuus: Die week se Blitsflits

Dit was ’n besige week vir AfriForum. Vrywilligers het onbaatsugtig hul bydraes gelewer om ’n verskil te maak.

Die AfriForum-takke in Nelspruit en Belfast het nuwe asblikke in hul gemeenskappe opgerig.

In Nelspruit is 36 asblikke langs die R40 vanaf die Ou Pretoria-pad tot by die West End-winkelsentrum, in Ferreirastraat en ’n paar ander plekke waar rommel algemeen gestrooi word, opgerig.

Die Belfast-tak het in hierdie dorp sowat tien asblikke opgerig om by te dra tot die algehele netheid van die dorp. ’n Skoonmaakaksie is ook aangepak waartydens die asblikke leeggemaak en gediens is.

“Ons is dankbaar vir die ondersteuning wat ons vir hierdie projek vanuit die gemeenskap ontvang,” sê David Spöhr, AfriForum se takvoorsitter in Belfast.

Die AfriForum-tak in Parys het ’n groot boom in Fickstraat verwyder nadat dit omgeval het en ’n gevaar vir motoriste ingehou het. Die tak het ook ’n stopteken opgerig.

In Jeffreysbaai het die AfriForum-tak onlangs kragte saamgesnoer met die Kouga Plaaslike Munisipaliteit om straatligte op die toegangsroete vanaf Jeffreysbaai na Astonbaai en Paradysstrand op te rig om sodoende hierdie roete veiliger te maak. Hierdie projek volg op ’n samewerkingsooreenkoms wat tussen AfriForum en die Kouga Plaaslike Munisipaliteit gesluit is.

AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 26 Oktober 2021 as deel van die organisasie se #VegEnBou-week besoek afgelê by Hoërskool Oudtshoorn om ’n selfdoodbewusmakingspraatjie te lewer. Besprekingspunte sluit in: waarskuwingstekens, statistieke, waarom mense selfdood pleeg, hoe om met iemand te praat wat selfdood oorweeg en hoe om iemand te help wat selfdoodneigings het.

AfriForum se Teks (Trichardt, Evander, Kinross en Secunda)-tak het twee groot slaggate in Andries Potgieterstraat herstel. Dit volg nadat die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit meer as ses jaar gelede ’n gat oop gegrawe het wat nog nooit herstel is nie.

“Ons is moeg daarvoor om vir die munisipaliteit te wag wat nie hul pligte nakom nie. Daarom spring ons self in om die dorp op te knap,” sê Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak.

Soortgelyke plasings