|

#OnsDorp-projek: AfriForum se Rustenburg-tak gryp self in om ’n verskil te maak

Die AfriForum-tak in Rustenburg het in Oktober die stryd teen munisipale verval in hul dorp voortgesit deur deel te neem aan die organisasie se #OnsDorp-projek.

Dié tak se skoonmaakspan het parke en sypaadjies drie maal per week opgeknap deur gras te sny en rommel op te tel. Ongeveer vier hektaar se gras is in Protea Park en Safari Tuine gesny. ’n Stopteken is ook in Safari Tuine vervang, terwyl ’n stormwaterdrein wat met plante toegegroei is, ook oopgemaak is.

“Soos die meeste munisipaliteite in Noordwes, gaan Rustenburg gebuk onder munisipale verval, daarom is dit baie belangrik dat die AfriForum-tak eienaarskap neem van hul dorp deur deel te neem aan die #OnsDorp-veldtog en sodoende die dorp se woongebiede op te knap. Ons sal self ons dorp onderhou as die verantwoordelike partye dit nie doen nie,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Dit is goed om te sien dat hierdie skoonmaakspan ’n verskil maak in die dorp. Dit sal baie lekker wees om nóg meer inwoners deel te maak van hierdie selfdoenpoging om sodoende Rustenburg weer die mooi dorp te maak wat dit kan wees. Baie dankie ook aan elke AfriForum-lid wie se bydraes hierdie projekte moontlik maak,” sê Chris Trytsman, voorsitter van AfriForum se Rustenburg-tak.

Word vandag nog deel van AfriForum se Rustenburg-tak: SMS “Rustenburg” na 45344 (R1) of bel vir Chris Trytsman by 082 469 2221.

Soortgelyke plasings