Staatsrede 2024: AfriForum benadruk Ramaphosa-administrasie se onvermoë om 2023 se beloftes na te kom; bied alternatiewe oplossings

President Cyril Ramaphosa se staatsrede sal vanjaar, in aanloop tot die 2024-verkiesing, vir seker swaar gelaai wees met tientalle groot beloftes. Dit ten spyte daarvan dat daar nie veel van verlede jaar se beloftes gekom het nie. AfriForum neem dié beloftes op die vooraand van vanjaar se staatsrede opnuut in oënskou, werp lig op die realiteit én bied alternatiewe oplossings.

In die 2023-staatsrede het die president beklemtoon dat die regering “gefokus” is op die takeling van beurtkrag, werkloosheid, armoede, stygende lewenskoste, misdaad, korrupsie en dienslewering.

Elektrisiteit

  • Belofte: Die regering sal uiteindelik die kragkrisis wat sedert 2007 woed, takel.
  • Realiteit: In ’n voorheen ongekende verswakking van die kragkrisis, is 332 dae beurtkrag, die meeste nóg, aangeteken in 2023. Dié syfer oorskadu die 205 dae wat in 2022 aangeteken is.
  • AfriForum se oplossing: Privatiseer Eskom of dereguleer die energiebedryf om aan onafhanklike kragmaatskappye, met ’n fokus op sonkrag, geleentheid te gee om tot die mark toe te tree.

Werkloosheid

  • Belofte: Werkloosheid sal in 2023 getakel word.
  • Realiteit: Daar is nie eens ’n duik gemaak in Suid-Afrika se hemelhoë werkloosheidsyfer nie. Werkloosheid het in 2023, volgens die breë definisie (wat ontmoedigde werksoekers insluit), op nagenoeg 42% te staan gekom.
  • AfriForum se oplossing: Ruk die huidige disfunksionele onderwysstelsel reg deur middel van die bevordering van moedertaalonderrig en plaas ’n fokus in die kurrikulum wat sal verseker dat leerders en studente omskep word in werkskeppers eerder as blote werksoekers. Daarbenewens moet weggedoen word met die regering se lang lys wetgewing wat op grond van ras diskrimineer.

Armoede en stygende lewenskoste

  • Belofte: Die regering sal armoede en stygende lewenskoste bestry.
  • Realiteit: Teen laat 2023 het ekonome Suid-Afrika se stygende lewenskoste as ’n toenemende krisis bestempel. Die konsensus is dat Suid-Afrika se fiskale krisis, ’n verswakkende rand en swak staatsbestuur die voorste redes hiervoor is.
  • AfriForum se oplossing: Die ekonomie vereis minder staatsinmenging, nie meer nie. Boonop word burgers oorbelas deur die regering se uitermatige hoë belastingkoerse.

Misdaad

  • Belofte: Maak gemeenskappe veiliger.
  • Realiteit: Op 45 moorde vir elke 100 000 mense, was die land se moordkoers vir 2022/2023 die hoogste nóg in 20 jaar. In vergelyking met die per capita-moordkoers vir 2012/2013 kom dit neer op ’n toename van naastenby 50%.
  • AfriForum se oplossing: Gemeenskappe moet organiseer om hulself, binne die raamwerk van die wet, te beskerm. Daarom het AfriForum het reeds 172 buurt- en plaaswagte oor die land heen gevestig wat sal voortgaan om hul vermoëns en suksesse uit te bou.

Korrupsie

  • Belofte: Die regering sal sterk standpunt inneem teen korrupsie.
  • Realiteit: In 2023 het Suid-Afrika die swakste nóg gevaar in die Corruption Perceptions Index (CPI).
  • AfriForum se oplossing: Totdat daar nie ernstige gevolge is vir hooggeplaaste regeringslui wat hul skuldig maak aan korrupsie nie, sal die regering se beloftes, rakende die bekamping van korrupsie, leeg bly.

Dienslewering

  • Belofte: Verbeter dienslewering.
  • Realiteit: Die Afrobarometer vir 2023 het bevind dat Suid-Afrikaners toenemend ontevrede is met die regering se voorsiening van belangrike openbare dienste.
  • AfriForum se oplossing: Wentel mag af tot op gemeenskapsvlak. Met meer as 160 takke landwyd takel AfriForum talle kwessies rakende dienslewering, insluitende vullisverwydering, watervoorsieningsprobleme, opruimingsaksies, die herstel van slaggate, die verf van padtekens en vele meer.

Volgens Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van Openbare Betrekkinge, skryf ’n toenemende aantal mense die jaarlikse staatsrede af as net nóg ’n geleentheid vir die regering om leë beloftes te maak. “Vele burgers het reeds besef dat die regering óf onbekwaam óf onwillig is om die probleme wat hulle elke dag in die gesig staar, te takel. Gemeenskappe is nou op hulself aangewese, daarom wend hulle hulself tot alternatiewe oplossings,” verduidelik hy.

“’n Alternatiewe gemeenskapsgebaseerde benadering tot probleemoplossing bestaan. Die goeie nuus is dat hierdie benadering jare gelede reeds verder gevorder het as blote teorie en eksperimente en het reeds ’n trotse prestasierekord met talle suksesse. AfriForum is een van die organisasies wat leiding neem met hierdie baanbrekerswerk om desentralisering te bewerkstellig en mag terug te besorg waar dit hoort – by gemeenskappe,” sluit Van Zyl af.   

(Foto: Wikimedia Commons/ITU Pictures)

Soortgelyke plasings