|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

In ’n week wat verlof tot appèl aan AfriForum toegestaan is in die EFF-haatspraaksaak het die burgerregteorganisasie ook gehelp om ’n plaaslike gemeenskap in die Oos-Kaap se intelligente landboubuurt aan die gang te kry en het verskeie takke gehelp om hul dorpe skoon te maak.

Verlof tot appèl is aan AfriForum toegestaan in die Kill the boer-haatspraaksaak teen die EFF, Julius Malema en Mbuyiseni Ndlozi. Dit volg ná die Gelykheidshof in Augustus verklaar het dat die dreunsang Kill the boer nie haatspraak is nie.

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, sê dat hierdie saak van groot belang is. “Hierdie beslissing is slegs ’n enkele tree vorentoe in AfriForum se groot stryd teen geweld aanhitsing teen boere en minderheidsgroepe.”

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum

AfriForum en Saai het hande gevat met iNkosi Zwelothando Mabandla van die AmaBhele kaJamangile Tradisionele Gemeenskap naby Maclear in die Oos-Kaap. Bome is by die Mqokolweni Junior Sekondêre Skool geplant. Dis die eerste stap in die vestiging van ’n intelligente landboubuurt met die oog op ’n selfstandige gemeenskap.

AfriForum se Noord van die berg-tak in Pretoria se tuinspan het verskeie parke, die begraafplaas in Heatherdale en Pretoria-Noord se stadsaal skoongemaak. Hulle het meer as 200 swartsakke se vullis opgetel.

AfriForum se Noord van die berg-tak het meer as 200 swartsakke vullis tydens ‘n skoonmaakaksie verwyder.

Daar is ook in die Wes-Kaap skoonmaakprojekte aangepak. Die Overstrand-tak het vier vullisdromme vir die Hermanus Country Market aangekoop en in Kraaifontein in Kaapstad is ’n parkie opgeruim en 50 spekbome aangeplant om ’n skoner omgewing vir inwoners te skep. Spekbome is gekies omrede hulle geken word vir hul effektiewe omskakeling van koolstofdioksied na suurstof.

Spekbome gereed om geplant te word.

In Sasolburg het die AfriForum-tak die afgelope naweek die Hoëveldse Tuine met ’n tuinfees ingewy. Dié tak het ’n geruime tyd gelede die onderhoud van die tuine oorgeneem om dit van totale verval te red. Baie werk is reeds gedoen om die tuine op te knap met die uiteindelike doel om ’n saamkomplek vir die gemeenskap te skep waar daar lekker rustig en veilig uitgespan kan word.

’n Klomp mense het Saterdag se fees bygewoon met 18 stalletjies wat allerlei items verkoop het. Daar was ook vermaak vir oud en jonk. Daar word reeds beplan aan ’n Kerssangdiens wat in November in die tuine aangebied sal word.

Lichtenburg se slaggatprojek is nog goed op dreef. Meer as 13 ton teer is in September aangewend om slaggate te vul. AfriForum se Lichtenburg-tak bedank graag Gideon du Preez van Lichcrete wat teer aangery het, asook die volgende ondernemings wat die inisiatief ’n sukses gemaak het: NWK se skenking van 12 ton teer, Hans Nel Bande se skenking van 30 sakkies teer en Tony Teixiera van Lichtenburg Spar se skenking van 30 sakkies teer.

Soortgelyke plasings