|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum sluit hierdie week op ’n hoë noot af met verskeie dorpe se strate wat verbeter is, jongmense wat vereer is vir hul vermoë om aan onvoorbereide debat deel te neem en stappe wat gedoen gaan word om boere by te staan wat deur die ANC-regering versaak word.

Die wenners van AfriForum se Dink of Sink-debatskompetisie vir 2022 is vandeesweek aangekondig. Die vier beste junior en vier beste senior spanne uit die verrenoord-, noord-, sentraal- en suidstreek van die land het teen mekaar te staan gekom. Vanjaar het Helpmekaar Kollege se Thea Kotzé, Emile du Toit en Danielle Wilkinson as wenners in die junior kategorie getriomfeer. In die senior debatsgroep was die Afrikaanse Hoër Meisieskool se Miné Hermann, Megan Jones en Megan Kruger die wenners.

V.L.N.R.: Alana Bailey (AfriForum se hoof van Kultuursake), Miné Hermann, Megan Kruger, Megan Jones, Clarindi Eloff (afrigter), Nicolene Müller (AfriForum se konsultant vir Dink of Sink), Kallie Kriel (AfriForum se uitvoerende hoof).

AfriForum en Saai het ’n mediakonferensie gehou waar boere, wat op staatsgrond boer, hul tragiese stories van mislukte grondhervormingprojekte vertel het. Die lot van die boere en duisende begunstigdes wat finansieel swaarkry kan byna eksklusief voor die deur van korrupte en onbekwame staatsamptenare gelê word. Hulle kry nie langtermynhuurkontrakte nie, grond wat wel aan hulle toegeken is, word deur ander persone beset of benut en hulle het enorme probleme met diefstal omdat hulle weens finansiële onsekerheid nie veiligheid kan opskerp nie.

AfriForum en Saai gaan minister Thoko Didiza van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling nader om in te gryp.

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter by Saai; Whiskey Kgabo, plaas Ledzee in Limpopo; Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum; Vuyani Zigana, plaas Bersheba in KwaZulu-Natal en Johannes Bezuidenhout, Nuveld Farming Empowerment Entreprises in die Wes-Kaap.

AfriForum het ook sukses behaal nadat ’n klag by die  Tshwane-metro ingedien is oor ’n korrupte amptenaar by een van sy lisensiekantore. Die beampte is vir R1 miljoen se bedrog en korrupsie vasgetrek en deur die SAPD in hegtenis geneem.

Op plaaslike vlak het die Chrissiesmeer-buurtwag  toerusting ontvang om veiligheid op te skerp. Die lede het nuwe AfriForum-glimbaadjies, pepersproei, opvoubare kegels en ’n nasionale tweerigtingradio ontvang wat die Chrissiesmeer-buurtwag met alle buurtwagte in die provinsie in verbinding plaas.

Die AfriForum-tak in Hartbeespoort het in samewerking met die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit die paaie in hierdie dorp verbeter deur slaggate op te vul en padtekens oor te verf.

AfriForum se Wes-Moot-tak het ’n huisbrand in Sarellaan in Mountain View geblus. Dié tak se brandspan het die brandweer met die beveiliging van die toneel bygestaan sowel as die brandbestryding self.

Die tak in Bethal het verskeie strate in die dorp herstel en die Apiesrivier-buurtwag het in samewerking met ander rolspelers een van drie gewapende mans tydens ’n plaasroof vasgetrek.

AfriForum het die tweede episode (The Carjacker’s Carnival) van die dokumentêre reeks Open Borders bekendgestel. Dit fokus op hoe die gebrek aan grensbeheer tussen Suid-Afrika en Mosambiek oorgrensmisdaad aanvuur asook wat vrywilligers doen om misdaad te bekamp deur buurtwagte en ander burgerlike veiligheidstrukture op die been te bring. Gaan kyk die video by https://youtu.be/asf6McJAUUU of op www.afriforumtv.co.za

AfriForum se traumaeenheid het ook in Stellenbosch nege vrywilligers opgelei om slagoffers van plaasaanvalle en geweldsmisdade op die toneel by te staan. Izel Kruger en Johan Kloppers, traumaberaders van AfriForum se traumaeenheid, het dié vrywilligers in die Wes-Kaap met die nodige kennis en vaardighede toegerus.

Izel Kruger en Johan Kloppers, traumaberaders van AfriForum se traumaeenheid, het ‘n opleidingsessie in Stellenbosch aangebied.

Soortgelyke plasings