|

Forum Nuus: Dié week se Blitsflits

AfriForum het sommer vroeg in die jaar begin om sy waghondfunksie te vervul deur antwoorde en optrede te eis in sake wat die publiek ten nouste raak asook om in te gryp op plaaslike regeringsvlak waar dienste in duie stort.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het in ’n Nuwejaarsboodskap gesê ondanks tekens van verkrummeling en verval op staatsvlak is daar hoop en alternatiewe wat mense kan aangryp om die toekoms in hul eie hande te neem. “Die sentralistiese regering se gebrek aan dienslewering skep ’n vakuum wat ons kan en moet vul. Ons gaan vanjaar ons plan vir gemeenskapsfederalisme versnel sodat ons kan doen wat ons moet doen om vir onsself ’n toekoms te skep.”

Hy het gewys op instellings wat reeds daar is soos Forum Sekuriteit, AfriForumTV, Maroela Media, Sol-Tech en Akademia wat deel is van die toekoms waaraan gebou word.

Op plaaslike vlak het die AfriForum Groter Moot-taklede en hul tuinspan ook vroeg weggespring met die skoonmaak van ’n gedeelte van die spruit waar die gras baie lank geraak het. Bossiekappers en grassnyers is ingespan om die gebied skoner en veiliger te maak. Volgens Andries Opperman, buurtbeampte, gaan die gemeenskap vanjaar opnuut eienaarskap neem van hul omgewing en dit wat hulle aanpak.

Die Centurion-buurtwag het ook vandeesweek ’n vrou te hulp gesnel wat op die N1-snelweg gestrand was nadat sy weens ’n pap band moes aftrek. Die N1 is bekend vir voorvalle van misdaad en daarom het die buurtwaglede dadelik gereageer.

Centurion-buurtwag verleen hulp aan ‘n motoris op die N1.

Die Apiesrivier-buurtwag en ander veiligheidsrolspelers het aan ’n sigbaarheidspatrollie deelgeneem om  kriminele aktiwiteite weg te dryf. 88 lede van die gemeenskap en die SAPS was betrokke.

AfriForum het nadat ’n skokkende video aan die lig gekom het oor betreurenswaardige optrede van soldate van die SANW in Mosambiek, ’n brief aan Thandi Modise, die minister van Verdediging, geskryf en geëis dat die bevelvoerder van die magte teruggeroep word om te verduidelik wat daar gebeur het. Die video beeld onder meer soldate uit wat lyke op ’n brandende hoop rommel in Mosambiek gooi. Dit het wyd kritiek uitgelok en volgens kenners kan die optrede op ’n oorlogsmisdaad neerkom wat vervolgbaar is.

Intussen het AfriForum se privaatvervolgingseenheid aangedui dat daar vordering is in van die eenheid se sake. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het stappe gedoen om verdere vertragings te verhoed in die saak van ’n man wat MIV “doelbewus versprei” het. Die saak is tot 25 Januarie uitgestel.

Daar is voorts goeie vordering in die sogenaamde wraakpornografie-saak nadat die beskuldigde in Desember gearresteer is en in die hof verskyn het. John Schuurman, ook bekend as Johnny Rocket, is op 23 Desember verlede jaar in hegtenis geneem, en was oor die feestyd in die tronk. Borgtog van R2 000 is op 6 Januarie in die landdroshof in Pretoria-Noord toegestaan. Hierdie is een van drie sake teen Schuurman waar die eenheid hulp aan klaers verleen. Hy moet weer op 3 Februarie in die hof verskyn.

John Schuurman, ook bekend as Johnny Rocket

Soortgelyke plasings