|

Thabazimbi-tak laat water weer vloei 

’n Lid van AfriForum se Thabazimbi-tak het vroeg op die oggend van 9 Maart, Cee-J van der Walt, die distrikskoördineerder van Soutpansberg ingelig dat daar ongerymdhede by die waterkrane wat die informele nedersetting en dorp van water voorsien aan die gang is. 

Van Der Walt en die voorsitter van dié tak, Janine Van Aard, het ondersoek gaan instel. Daar is vasgestel dat ’n privaat sekuriteitsmaatskappy aangestel is om dié krane te bewaak en dat slegs die sekuriteitsmaatskappy ’n sleutel en toegang tot die kraan het wat watervloei tussen die dorp en die informele nedersetting Regologile beheer.

Lede van die Thabazimbi-munisipaliteit het aanvanklik AfriForum toegang tot die krane geweier, maar na vele samesprekings en toutrekkery is toegang wel verleen.

Daar is vasgestel dat die waterpype wat die dorp van water voorsien heeltemal toegedraai is terwyl water vrylik na Regologile vloei. Hierdie oneweredige verspreiding van water het drukking in die sisteem veroorsaak soveel so dat ’n seel gebars het. AfriForum se Thabazimbi-tak het ingespring en met petrolaangedrewe pompe die water uit die kamer gepomp sodat toegang tot die watertoevoerpunt verkry kon word. Teen laatmiddag kon die lede van die tak, met die hulp van die Thabazimbi Departement van Water en Sanitasie, die krane oopdraai sodat Regologile en die dorp Thabazimbi self weer van water voorsien is. 

“Ons is so verlig dat alles goed afgeloop het. As daar iets in hierdie dorp gebeur, is ons as gemeenskap altyd paraat en reg om te help,” sê Janine Van Aard, AfriForum se voorsitter van die Thabazimbi-tak.

“By AfriForum praat ons nie net nie, ons identifiseer die probleem, dink aan oplossings en voer dit uit,” sê Cee-J van der Walt, distrikskoördineerder van Soutpansberg.

Soortgelyke plasings