|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek op verskeie terreine toegetree om ongeregtighede te uit te wys, te voorkom en reg te stel.

Die organisasie het ’n dokumentêr oor die werklikhede in Netbal Suid-Afrika (NSA) bekendgestel nadat rolspelers wat tot onlangs nog by NSA betrokke was, AfriForum gekontak het oor voorvalle van onder meer viktimisasie, wanbestuur en seksuele teistering.

Nadat die parlement besluit het om die wetsontwerp oor Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) aanvaar, het AfriForum van die land se topregskenners, ekonome en mediese kenners saamgeroep om dié wetgewing op alle moontlike vlakke teen te staan.

Verder is Senzo Mchunu, die minister van Water en Sanitasie, versoek om die beoogde veranderings aan waterwetgewing, wat soveel as 75% swart eienaarskap van ondernemings wat ’n watergebruikslisensie benodig sal vereis, onmiddellik terug te trek.

Die organisasie se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig nog ’n slagoffer van die veroordeelde vroueslaner Jaco Swart en ’n dagvaardiging is uitgereik sodat hy in Augustus in die hof moet verskyn op nuwe aanklagte van aanranding.

AfriForum se Springbok-tak het ’n sleutelrol gespeel in die skuldigbevinding van Nevie Aubrey Baartman, voormalige munisipale bestuurder van die Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit. Baartman is in die Springbok-landdroshof skuldig bevind aan bedrog en dat hy die die Munisipale Finansiële Bestuurswet oortree het.

AfriForum het die stryd teen die Onteieningswetsontwerp [B 23 – 2020] voortgesit deur skriftelike kommentaar by die Wes-Kaapse provinsiale parlement se staande komitee oor infrastruktuur in te dien.

Ouers wat hulle kinders vir gr. 1 of gr. 8 vir die 2024-skooljaar moet registreer, word aangeraai om dit so gou moontlik te doen. Ouers wat probleme ervaar met die registrasieproses kan AfriForum om advies nader by onderwys@afriforum.co.za.

Die volgende AfriForum-takke het vandeesweek cholera-toetse gedoen: Bothaville, Heilbron, Viljoenskroon, Christiana en Bloemhof. Daar is nie by een van hierdie dorpe tekens van cholera gevind nie, maar wel tekens van E.coli en fekale kolivorme.

Die Standerton-tak het by die Voetsporemonument skoongemaak en het ook in samewerking met Lekwa Clean Up Crew die duikweg by Pick n Pay JunXion skoongemaak.

In Bethal het die tak rondom die Midnight-vulstasie en die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) skoongemaak. Dié tak het ook 60 kg se groente vanuit die tak se groentetuin aan die Bethal-sopkombuis geskenk.

AfriForum se Rustenburg-tak het reeds 1 675 ton teer gebruik om slaggate in dié stad op te vul.

Nadat die Springs-tak en gemeenskapslede op dierkarkasse afgekom het wat in ’n veld naby Daggafontein gestort is, het hulle die plaaslike DBV gekontak. Die DBV het ’n span uitgestuur wat bevestig het dat die karkasse en ander afval van hulle afkomstig is, maar ook dat die Ekurhuleni Metro dit kom verwyder het. Die tak het ’n brief aan die munisipale bestuurder gestuur om uit te vind watter maatreëls geïmplementeer gaan word om die situasie reg te stel. Die DBV het intussen self die karkasse verwyder.

Die Helderbergkom-tak het bokse vol appels geskenk vir kospakkies wat tydens ’n sportdag aan kinders in Gustrouw uitgedeel is.

In die Strand het die tak en buurtwag gehelp om inwoners van Kay’s Karavaanpark te ontruim en om benodighede te koop ná die derde vloed hulle in drie weke getref het.

Dirk Burger, voorsitter van die Port Elizabeth-tak, het namens AfriForum ’n voorlegging by die openbare verhoor oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette gelewer.

Buurtwaglede van oor die land heen het verskeie opleidingskursusse voltooi en die organisasie het vandeesweek sy agtste protospanopleiding, wat gespesialiseerde opleiding soos hand-tot-hand-gevegskuns, mediese opleiding, die beveiliging van tonele en taktiese vuurwapenhantering insluit, aangebied.

Soortgelyke plasings