|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum se takke het hierdie week skouer aan die wiel gesit om die onderskeie probleme in hulle dorpe aan te pak.

In Thabazimbi het die AfriForum-tak as deel van die organisasie se nasionale slaggatherstelprojek saam met die gemeenskap gewerk om slaggate met ongeveer 196 sakkies teer te herstel. 

Die Rustenburg-tak het hul regspan opdrag gegee om ’n brief aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) te rig oor die voortslepende kwessies rakende elektrisiteitsvoorsiening. Dié tak het verder die ou begraafplaas in Kockstraat skoon en netjies gemaak as deel van die Konsentrasiekampdag-herdenking. Twee stortbakke vol tuinvullis en bourommel is verwyder.

In Potchefstroom is konsentrasiekampdag ook herdenk en ongeveer 50 mense het dié verrigtinge bygewoon. Die tak- en gemeenskapslede het ’n blomkrans by die monument op die NG Kerk Potchefstroom-Oos gelê. Dié dorp se buurtwag het in samewerking met Mooirivier Beskerming en CB Sekuriteit twee verdagtes aangekeer wat glo koperkabels gesteel het.

Die AfriForum-tak in Deneysville het saam met ADT en gemeenskapslede ’n skoonmaakprojek aangepak. Die gras rondom kragpale en substasies is gesny om skade aan kraginfrastruktuur in die brandseisoen te voorkom. Dit gaan ook met misdaadvoorkoming help en dit makliker vir buurtwaglede maak om misdadigers te sien wat moontlik in die gras kon skuil. ’n Bakkievrag rommel is ook by ’n visvangarea langs die Vaaldam weggery.

Die organisasie het druk op die Mangaung Metro uitgeoefen sodat ’n gebarste waterpyp in die middestad herstel kon word wat ’n sinkgat gevorm het. Dié gebarste pyp het tot gevolg gehad dat studentewonings en ondernemings sonder water was.

Skriftelike kommentaar teen die Onteieningswetsontwerp (B 23 – 2020) is ook by die Vrystaatse provinsiale wetgewer ingedien.

AfriForum se regstryd teen die Ngwathe-munisipaliteit vir behoorlike watervoorsiening aan die inwoners van Parys en die herstel van waterinfrastruktuur gaan eersdaags in die Hooggeregshof in Bloemfontein aangehoor word.

Die buurtwag in Nelspruit het ’n groot aandeel gehad om ’n gekaapte voertuig op te spoor ná ’n huisroof. Dit volg ná die verdagtes een van die slagoffers by die huis se hek teëgekom het en die slagoffer in sy voertuig se kattebak geboender het. Die slagoffer is ongedeerd gevind, maar die verdagtes het egter gevlug.

AfriForum verwelkom die nuwe sperdatum vir inskrywings vir leerders wat aanstaande jaar in Gautengse openbare skole ingeskryf moet word vir gr. 1 of gr. 8. Dié datum is met ’n week tot 28 Julie verleng.  

Die burgerregtewaghond het antwoorde geëis van Faith Mazibuko, LUR van Gemeenskapsveiligheid in Gauteng, oor die opleiding wat die nuwe misdaadvoorkomingsbewaarders ontvang het, wie hulle opgelei het, hoe die bevelstruktuur van dié bewaarders gestruktureer is en hoe hulle beplan om saam met gemeenskapsveiligheidstrukture te werk.

Die Hoogste Hof van Appèl het ’n derde aansoek om verlof tot appèl deur Julius Malema en die EFF teen ’n interdik wat AfriForum in 2017 verkry het, van die hand gewys. Die interdik verbied Malema en die EFF om mense aan te hits om privaat eiendom te betree en onwettig te bewoon.

Soortgelyke plasings