|

AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie vir 2023 is hier

AfriForum Sakenetwerk bied in samewerking met Akademia weereens vanjaar die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie aan. Dié kompetisie gee entrepreneurs die geleentheid om hul unieke ondernemings en idees ten toon te stel en word sedert 2017 deur die organisasie aangebied.

Vanaf 2017 het meer as 350 entrepreneurs vir dié kompetisie ingeskryf en meer as 16 000 lede van die publiek het vir hul gunstelinge gestem. Louis Loubser het in 2017 met sy Tree Hog gewen, in 2018 het die dames van Oh-Lief met die louere weggestap en in 2019 het Marita Bezuidenhout van Magies vol Liefde koning gekraai. In 2021 het Elzabeth van der Bijl (Fynbos SA) in die kategorie vir entrepreneurs wat minder as sewe jaar handeldryf gewen en Alita du Plessis (Purple Carrot) het in die kategorie vir entrepreneurs wat langer as sewe jaar handeldryf met die titel van Entrepreneur van die Jaar weggestap, terwyl Bertha Lewis, verlede jaar se wenner, mense behoorlik aan die praat gehad het met haar beertjie Lingi.

Die vereistes vir die kompetisie is vanjaar verder uitgebrei en die kriteria waaraan die wenner nou moet voldoen sluit in dat die entrepreneur se ervaring ooreenstem met die tyd in die bedryf en hul betrokkenheid by ’n onderneming. Verder moet die entrepreneur ook aan verskeie webinare deelgeneem het.

Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, is opgewonde oor die feit dat hierdie kompetisie reeds sewe jaar aan die gang is. “Daar is groot pryse op die spel, maar wat hierdie kompetisie uniek maak is die platform wat dit vir die wenner bied. Ons wil entrepreneurs aanmoedig en beloon. Ons sien hulle harde werk raak en ons weet dat dit harde werk verg om in Suid-Afrika sukses te bereik. Ons glo dat die pryse en blootstelling die wenner en die toptien ’n hupstoot met hul onderskeie ondernemings sal gee.”

Mareli Swanepoel, projekbestuurder by Akademia, is uiters trots daarop dat Akademia ’n vennoot van hierdie entrepreneurskompetisie is. “Dié kompetisie skep die ideale geleentheid vir entrepreneurs wat ’n hupstoot nodig het en bied ook die deelnemers ’n kans om uitstekende advies van kundiges te ontvang.”

Inskrywings het reeds op 22 Junie geopen en sluit op 24 Julie 2023. ’n Uitgesoekte paneel beoordeel die toptien en gee ook terugvoer. Die wenner sal middel Oktober aangekondig word.

Van die pryse op die spel sluit ’n kontantprys van R50 000 in, asook ’n handelsmerkpakket by Kwikstert en handelsmerkbeskerming van STEYN IP.

Klik hier en hoor wat vorige jare se wenners te sê het.

  • Klik hier vir die skaal waarvolgens deelnemers beoordeel sal word.

Soortgelyke plasings