|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek ’n brief aan die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (SASKOK) gestuur om ’n ondersoek na verskeie ongerymdhede by Netbal SA te eis. Dié burgerregteorganisasie se takke het ook op verskeie maniere hul dorpe opgeknap en herstel.

AfriForum het Netbal SA met die dokumentêr Die ware stand van sake in Netbal SA die bewerings van viktimisasie, seksuele misdrywe en wanbestuur by dié sportliggaam in die kollig geplaas. Verskeie fluitjieblasers het AfriForum reeds genader met verdere inligting wat bewerings in die dokumentêr ondersteun. Netbal is een van die sportsoorte in Suid-Afrika met groot potensiaal wat ongelukkig dikwels gebuk gaan onder wanbestuur en politieke agendas wat verhoed dat hierdie potensiaal ten volle ontgin word.

By die Grant Khomo-week is die Westelike Provinsie se o/16-rugbyspan gediskwalifiseer toe hulle nie ná ’n rits beserings ’n span vir die eindstryd op die veld kon kry wat aan die raskwotas van die toernooi voldoen nie. AfriForum het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie gevra om tussen beide te tree en die besluit om te keer.

Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport

’n Dringende brief is ook aan die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit gerig nadat dit aan die lig gekom het dat dié munisipaliteit beplan om ’n delegasie na China te stuur om verteenwoordigers van Changsha te ontmoet. Dit blyk dat befondsing vir die aangeleentheid reeds goedgekeur is alhoewel nog geen kosteberaming bereken of beskikbaar gestel is nie. Soos verstaan word, is die doel van die besoek om potensiële beleggingsmoontlikhede vir die Chinese in die Dawid Kruiper-munisipaliteit en om die moontlikheid van kulturele uitruilings te ondersoek. AfriForum versoek in die brief onder meer ’n uitleg van die kostes en watse soort beleggingsgeleenthede oorweeg word.

Verskeie AfriForum-takke het die afgelope week slaggate herstel. In Lichtenburg is 100 sakkies teer gebruik om 65 slaggate te herstel en in Bethal is 150 sakkies teer vir herstelwerk aan slaggate aangewend.

AfriForum se Weskus-, Cederberg- en Langebaan-tak het hulp aan vloedgeteisterde dorpe en gebiede verleen. Citrusdal is van die buitewêreld afgesny ná paaie verspoel het en brûe weggespoel het. Voorrade is per helikopter na die dorp gevlieg. Klere en kos ter waarde van R8 000 is in Citrusdal versprei.

Etienne Kilian, Christo Venter en Sidney Monk van die Weskus-tak by die reuse-skenking

Die Pretoria-Wes-tak het met die hulp van 30 vrywilligers die sakesentrum skoongemaak en lede van die AfriForum-buurtwag in Witrivier het in samewerking met BlackWater Security twee verdagtes aangekeer wat in ’n gesteelde voertuig gery het.

Soortgelyke plasings