|

Krugersdorp-tak verf en gaan brandkrane na

AfriForum se Krugersdorp-tak het op 1 Julie in Oatlands, Krugersdorp brandkrane oorgeverf en nagegaan. Dít volg nadat twee huise onlangs in Oatlands afgebrand het omdat die brandkrane nie duidelik gemerk en sigbaar was nie. Ongeveer 28 vrywilligers en lede van die Krugersdorp-brandweer het gehelp om altesaam 23 brandkrane oor te verf, na te gaan en te toets, terwyl vyf van dié krane vir herstelwerk geïdentifiseer is.

“Dit is van uiterste belang dat brandkrane ten alle tye in ’n werkende toestand en duidelik sigbaar moet wees. Dít beteken dat brandkrane maklik toeganklik is, dat daar watertoevoer is, asook dat die korrekte koppelings in plek is. Tye wanneer daar nie brande is nie behoort brandkrane nagegaan te word om te verseker dat die brandweer hulle werk doeltreffend in ’n noodsituasie kan verrig. Ek bedank graag die volgende reserviste by die Krugersdorp-brandweer (Stasie 38): Dale Mac Rae, Mitch Mac Rae, Charl Oosthuizen en Annge Oosthuizen, wat toesig gehou het. Dankie ook aan almal wat betrokke was en dié aksie ’n sukses gemaak het,” sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.

“Ek wil raadslede Trudie Malan Naude en Aloysha Barkley Jooste vir hulle deelname en ondersteuning tydens hierdie projek bedank – julle betrokkenheid het ’n groot verskil gemaak. Ons bedank ook John’s Automotive Paints vir hulle waardevolle skenking vir die projek. Dit is lekker om te sien hoe die gemeenskap eienaarskap van hul omgewing neem. Die sukses van hierdie projek is ’n weerspieëling van die gemeenskapsgees en doeltreffende samewerking,” sê Pieter Joubert, tesourier van die Krugersdorp-tak.

AfriForum se Krugersdorp-tak is aktief in die gemeenskap en span met ander rolspelers en die gemeenskap saam om die area netjies en veilig te hou. Die publiek word aangemoedig om by dié tak aan te sluit: Skakel Pieter Joubert by 072 604 4950 of klik hier.

Soortgelyke plasings