|

Lichtenburg-tak vul slaggate op sonder keer

AfriForum se Lichtenburg-tak het tussen 27 Junie en 6 Julie sowat 90 slaggate opgevul as deel van hul volhoubare slaggatprojek. Dié tak het besluit om op 2de Laan en Breëstraat te fokus omdat dié paaie baie verkeer dra en verskeie motorbande al daar beskadig is.

Honderd sakkies teer is gebruik om al dié slaggate op te vul en SS60 bitumenemulsie om dit te verseël.

“Die opvul van hierdie 90 slaggate wys die vordering wat ons tak al in die gemeenskap gemaak het. Ons is verheug oor die sukses van hierdie projek en die positiewe impak wat dit op die padveiligheid en verkeersvloei het. Ons is dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning en ons vennote se betrokkenheid. Ons bedank ook Noordwes Koöperasie (NWK) vir hul teerskenking,” sê Pine Pienaar, leier van die slaggatprojek in Lichtenburg.

“Die inisiatief van AfriForum se Lichtenburg-tak om ondernemings en individue uit te daag om teer te skenk, om slaggate in spesifieke strate op te vul, is ’n voorbeeld van gemeenskapsbetrokkenheid en samewerking. Dit gee inwoners ’n geleentheid om aktief by die verbetering van ons dorp betrokke te raak . Dit is wonderlik om te sien dat die Lichtenburg-tak ’n katalisator vir positiewe verandering in ons gemeenskap is,” sê Armand Viljoen, distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum se Lichtenburg-tak moedig inwoners aan om die geleentheid te benut, saam te werk en die dorp se padnetwerk te verbeter. Ondernemings en individue word uitgedaag om teer vir ’n spesifieke straat se slaggate te skenk.

Klik hier of skakel Steyn Kearny by 082 803 3628 om by AfriForum se Lichtenburg-tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings