|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForumTV het dié week opwindende nuus bekendgemaak en mense kan hulle gereed maak om aan die einde van die jaar na Vetkoekpaleis II op dié gratis stromingsplatform te kyk. Die 10 nuwe episodes gaan van 28 September tot 28 Oktober in die AfriForum Teater verfilm word.

Nadat Julius Malema op die EFF se tiende verjaarsdagviering weer die dreunsang Kill the Boer gesing het, het AfriForum aangekondig dat sy appèl teen die Gelykheidshof se bevinding dat die sing van Kill the Boer nie haatspraak is nie, op 4 September in die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein aangehoor gaan word.

AfriForum neem sterk standpunt in teen polisiebrutaliteit en het daarom ’n Paia-aansoek gebring om inligting te bekom oor die aantal onwettige arrestasies wat SAPD-lede die afgelope vyf jaar uitgevoer het. Die organisasie wil met dié aansoek ook weet hoeveel geld bestee word aan regskoste om hierdie lede te verdedig en die skikkingskoste wat aan slagoffers betaal word.

Verder het die organisasie ’n regsverteenwoordiger aangestel om ’n saak noukeurig dop te hou nadat drie boere in die Vrystaat, waaronder twee vroue is, in hegtenis geneem is nadat die boere veediewe vasgetrek het wat besig was om hul skape te steel.

Op die omgewingsake-front het die burgerregteorganisasie vandeesweek sy jaarlikse vullisterreinouditverslag bekend gemaak en ook die nasionale blou-en-groendruppelprojek afgeskop. Vir hierdie projek gaan takke landwyd in Augustus hulle onderskeie dorpe se water en verwerkte rioolwater toets.

Al AfriForum se takke in Pretoria is gereed om die Tshwane Metro met dienslewering te help nadat dienste soos vullisverwydering nie plaasgevind het nie omdat munisipale werkers staak oor ’n loonverhoging.

Die regspan van AfriForum se Springs-tak het hofstukke op die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) beteken om die voortslepende probleme met elektrisiteitsvoorsiening in die Ekurhuleni Metro op te los.

Die Klein-Karoo-plaaswag is in die Ladysmith-omgewing gestig en is deel van AfriForum se Kannaland-tak.

Die Bloemhof-tak het die Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit op terme geplaas aangesien rou riool direk in die Vaalrivier invloei.

Die AfriForum-tak in Belfast het ’n aanlyn skakel aan inwoners beskikbaar gemaak sodat hulle watertekorte direk daarop kan aanmeld en dit dan onder die munisipaliteit se aandag gebring kan word. Die tak het reeds twee noodwaterpunte opgerig en beoog om in die komende weke nog een op te rig.

In Machadodorp het die AfriForum-tak 35 slaggate met 20 sakke teer in Tobiasstraat opgevul.

As deel van die Phalaborwa-tak se bewusmakingsprojek het die tak noodsaaklike goedere soos toiletpapier en skoonmaakmiddels aan die Bougainvillea-versorgingsentrum geskenk.

AfriForum se teenboelieveldtogspan het by Laerskool Stephanus Roos in Pretoria besoek afgelê om die leerders bewus te maak oor afknouery in skole.

Soortgelyke plasings