|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek beweerde ongerymdhede en wangedrag by Netbal Suid-Afrika ontbloot en ’n klagte by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) ingedien oor onwettige en gevaarlike kragverbindings in Parys. Voorts het AfriForum Jeug ’n selfverdedigingsessie vir vroue in George aangebied en die jeug in Pretoria het meer as R100 000 ingesamel tydens ’n fietsry-uitdaging.

Die burgerregteorganisasie het tydens ’n mediakonferensie aangekondig dat hy vir Joseph Taylor, ’n gekwalifiseerde netbalafrigter en skeidsregter, en Olivia Jasriel, ’n kampvegter teen die seksuele misbruik van kinders en wat self ook ’n slagoffer van mishandeling was, ondersteun in hul onderskeie sake teen Netbal Suid-Afrika (SA). Die ernstige wanbestuur en beweerde wangedrag in Netbal SA is tydens die mediakonferensie onder die loep geneem. Netbal Suid-Afrika het ’n lastersaak teen Jasriel aanhangig gemaak nadat sy inligting oor beweerde seksuele misdrywe bekend gemaak.

Taylor het inligting ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aangevra oor finansiële ongerymdhede tydens Cecilia Molokwane, president van Netbal SA, se ampstermyn, asook inligting oor beweerde voorvalle van seksuele mishandeling. Netbal SA het egter nie hierdie inligting verskaf nie ondanks hul wetlike verpligtinge om dit te doen.

Parys gaan gebuk onder verskeie probleme weens munisipale. AfriForum se tak in dié dorp het ’n klagte by NERSA ingedien om die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit te noop om onwettige en gevaarlike kragverbindings te verwyder. ’n Werknemer van dié munisipaliteit het vroeër vanjaar doodgeskok, maar daar is steeds niks aan die gevaarlike koppelings gedoen nie.

AfriForum Jeug het in George ’n sessie vir sowat 30 vroue aangebied om hulle oor basiese selfverdediging touwys te maak. In Pretoria het verskeie spanne aan ’n fietsry-uitdaging deelgeneem wat deur AfriForum Sport in samewerking met AfriForum Jeug se Pretoria Kanton aangebied is. Ongeveer 300 studente van verskillende instellings insluitend Sol-Tech, Akademia en Tuks Landbou het aan dié 12 uur uitdaging deelgeneem en meer as R100 000 vir verskeie instansies ingesamel.

Die gevonnisde vroueslaner Jaco Swart sal moet lig loop nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n lasbrief vir die arrestasie van die gevonnisde vroueslaner Jaco Swart in Kuilsrivier bekom. Swart het na bewering ’n polisiebeampte aangerand. Hy is glo met ’n vriend se paspoort landuit en is nou in die Verenigde Koninkryk. Stappe gaan gedoen word sodat hy uitgelewer kan word om in die hof in Suid-Afrika te verskyn.

AfriForum het ’n formele versoek gerig aan die Tshwane Metro om ’n nuwe konsepbywet te oorweeg, wat AfriForum sal help skryf. Hierdie konsepbywet sal inwoners die opsie bied om te kies tussen die bestaande vullisverwyderingsdienste van die metro of om van ’n privaat maatskappy se dienste gebruik te maak. AfriForum het juis Saterdag met die hulp van ’n privaat kontrakteur vullis in Garsfontein, Pretoria, verwyder ná ’n voortslepende munisipale staking daartoe gelei het dat vullis in sommige plekke vier weke laas verwyder was.

AfriForum se Walker Drive-buurtwag in Port Elizabeth het gehelp om ’n kabeldief vas te trek. Die verdagte is op heterdaad betrap terwyl hy besig was om kabels te knip en is aan die SAPD oorhandig.

Soortgelyke plasings