AfriForum waarsku teen hittegolf: Deel wenke oor veiligheid tydens uiterste hitte

AfriForum het ’n gids saamgestel met wenke oor hoe mense hulself kan voorberei om sodoende veilig te bly wanneer uiterste hitte tref. ’n Hittegolf word voorspel vir die noordelike deel van die land wat nou in ’n droë seisoen verkeer. Die provinsies wat die hoogste temperature kan verwag is die Vrystaat, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Die hoë temperature kan die gemiddelde temperatuur van die warmste maand met 5°C vir drie dae en langer oorskry. Dié hittegolf verhoog ook die risiko’s vir veldbrande met toestande wat ook gunstig is vir weghol veldbrande.

AfriForum se gids sluit onder meer inligting in oor voorsorg voor ’n hittegolf asook veiligheidswenke gedurende en ná ’n hittegolf. Die gids kan hier afgelaai word.

“Tydens ’n hittegolf is dit veral belangrik dat daar voorsorg getref word vir bejaardes, kinders en troeteldiere soos om genoeg vloeistowwe in te neem en uit die son te bly. Omdat die brandgevaar ook hoog is moet gemeenskappe toegerus wees met brandbestrydingstoerusting en gebeurlikheidsplanne sou ’n brand uitbreek,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis vir AfriForum.

Volgens AfriForum is dit belangrik om weet wat om te doen tydens ’n hittegolf en die tekens en simptome te herken van hittekrampe, hitte-uitputting of sonsteek en vroegtydig die nodige hulp te kry.

Soortgelyke plasings