|

Gauteng-debatteerders sê hulle sê by Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir hoërskoolleerders

AfriForum se Dink of Sink-span het op 11 en 12 Julie die tweede van ses streeksuitdunne vir die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir hoërskoolleerders by die Hoërskool Montana in Pretoria aangebied.

Die doel van die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie is om debat in Afrikaans op hoërskool- en universiteitsvak te bevorder. Terselfdertyd leer die debatteerders ’n kernvaardigheid wat hulle in die toekoms sal baat wanneer hulle die werksplek betree.

Altesaam 177 hoërskoolleerders, waaronder 27 junior en 32 senior spanne van 12 hoërskole in Gauteng, het aan die debatskompetisie deelgeneem. Die skole wat aan die debatskompetisie deelgeneem het, is Hoërskool Montana, Hoërskool Oos-Moot, Hoërskool Monument, Die Hoërskool Menlopark, Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Zwartkop, Hoërskool Ermelo, Hoërskool Transvalia, Hoërskool Noordheuwel, Helpmekaar Kollege, Afrikaans Hoër Seunskool Pretoria en Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria. Al die spanne het drie debatte gevoer oor verskeie onderwerpe wat met aktuele kwessies in hul omgewing en die land verband hou.

“Al was dit baie koud het elkeen van die leerders hulle staal gewys met vuurwarm debatte. Dit is ongelooflik om te sien hoe hierdie hoërskoolleerders vinnig op hulle voete dink en baie goed geformuleerde argumente in ’n gestruktureerde toespraak lewer,” sê Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys.

Kiki Butler. Lientjie Steyn en Anabelle Swanepoel (span 3) van Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria is as die junior kategorie se wenners aangekondig. Die junior kategorie se naaswenners – Zian van Wyk, Roxanne Bornman en Skye Byles (span 5) – is ook van Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria.  Danielle Wilkinson, Thea Kotzé en Emile du Toit (span 2) van Helpmekaar Kollege is die senior kategoriewenners, terwyl Elanzé Kuhn, Waldo Haasbroek en Nelius van Graan (span 1) – ook van Helpmekaar Kollege – as die naaswenners van die senior kategorie gekroon is.

Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria en Helpmekaar Kollege dring deur na die nasionale finaal wat op 5 Oktober in Pretoria plaasvind.

“Die hoë gehalte van die debatte weerspieël toon die hoërskoolleerders se toewyding in hul voorbereiding. Ons sien baie uit vir ’n naelbyteindstryd in Oktober wat gaan bepaal wie die beste onvoorbereide debatteerders in Suid-Afrika is,” sluit Müller af.

Soortgelyke plasings