|

Gebrek aan skoon water lei tot vurige opstand in Parys

Chaos heers sedert gistermiddag in Parys omdat inwoners van Tumahole en Schonkenville genoeg gehad het van die feit dat hulle nooit skoon water het nie. Inwoners van hierdie woongebiede het begin deur die JoJo tenks, wat veronderstel is om met skoon water gevul te word, aan die brand te steek. Vanoggend het hulle Parys binnegestroom na die munisipale geboue en die waterwerke toe. Paaie word versper en daar word gebrand. Die ingange na die dorp is versper. Die inwoners is kwaad en het nou genoeg gehad.

Die AfriForum-tak in Parys is nie verbaas oor die optrede nie, maar is van mening dat hierdie situasie voorkom kon gewees het as die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit en die Hooggeregshof in Bloemfontein gehoor gegee het aan AfriForum se versoeke en die hulp wat hulle gebied is, aanvaar en uitgevoer het.

Die Ngwathe-munisipaliteit het ongeveer 18 maande gelede ’n ooreenkoms met AfriForum onderteken. AfriForum het sy kant van die ooreenkoms nagekom en planne aan die munisipaliteit voorsien om die waterwerke asook die rioolwerke in ’n goeie, werkende toestand te kry. Die organisasie het selfs ’n kosteberaming by hierdie planne aangeheg maar tot op hede het die munisipaliteit nie aan enige van die aanbevelings gehoor gegee nie.

Verder het AfriForum twee dringende hofaansoeke gebring verlede jaar (2022) en een reeds in 2019, oor die watertekort sowel as die swak gehalte van die water. Al hierdie hofaansoeke is egter deur die Hooggeregshof in Bloemfontein afgewys as nie dringend nie. Daar is ook ’n aansoek gebring om die watersituasie in Parys tot ’n ramp te verklaar wat nie toegestaan is nie. Verder het AfriForum ook die watersituasie in Parys onder die Departement van Gesondheid se aandag gebring, omdat die E.Coli in die water siektes en selfs die dood tot gevolg kan hê.

“AfriForum het lankal gesien dat die watersituasie in Parys ’n tydbom is. As daar gehoor gegee is aan al AfriForum se roepe om hulp, kon hierdie situasie vandag verhoed gewees het. AfriForum is egter steeds bereid om hulp te voorsien, dit moet net aanvaar word,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Soortgelyke plasings