|

Tshwane-metropolisie ontbied om stokkie te steek voor AfriForum se herstelwerk

Klap in die gesig van vrywilligers wat stad wil opbou, meen burgerregtegroep

Die burgerregteorganisasie AfriForum moes vandag (29 Januarie) herstelwerk aan ’n reusseslaggat in Centurion staak nadat die Tshwane Metropolisie ontbied is om ’n stokkie te steek voor dié vrywillige reparasiewerk.

Die betrokke slaggat, op die hoek van Kort- en Theodorestraat in Kloofsig, Centurion, is die afgelope ses maande reeds telkens by die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit aangemeld vir herstelwerk, maar sonder sukses. Moedelose inwoners van dié voorstad het AfriForum se Centurion-buurtspan – na afloop van ’n suksesvolle gesamentlike skoonmaakprojek hier – op 20 Januarie om hulp met die herstel van dié reusegat genader.

Die buurtspan wat uit plaaslike vrywilligers bestaan, het dadelik ingestem en vanoggend met herstelwerk begin. Die groep se werk is egter kortgeknip toe ’n groep werkers van die metro opdaag om die einste slaggat te herstel. Dié het daarop aangedring dat AfriForum hul werk opskort.

Terwyl Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Suid, probeer het om die aangeleentheid uit te klaar, is die Tshwane Metropolisie ontbied en is die AfriForum-span gedwing om die toneel te verlaat. 

Dié optrede, meen Ungerer, laat ernstige vrae ontstaan oor die metro se prioriteite. “AfriForum het begrip daarvoor dat die metro onder druk verkeer om die nodige dienste tydig en doeltreffend te lewer. Ons verstaan ook dat daar stelsels is waarvolgens hulle te werk gaan om hul werk gedoen te kry, maar vandag se optrede is ’n klap in die gesig van vrywilligers wat met die beste bedoelings vir dié stad as’t ware weggeboender is,” benadruk Ungerer.

Hy beklemtoon dat AfriForum oor die hele land heen byna daagliks betrokke is by die herstel van slaggate. Daar word altyd toegesien dat die regte prosesse daarmee gevolg word en dat hoë gehalte produkte vir die herstelwerk gebruik word. Daarbenewens word dié projekte met die nodige kundigheid aangepak.

“Die optrede van die metropolisie is vreemd, veral gegewe dat die burgermeester en sy komitee ’n hand van samewerking na burgerlike organisasies uitgereik het. Tog vind hierdie tipe insidente op grondvlak plaas, wat nie in die gees van samewerking is nie. AfriForum sal dié insidente bespreek met die burgemeesterskomiteelid, Grandi Theunissen, en die burgemeester, Cilliers Brink,” voeg Ungerer by.

Volgens hom is AfriForum bewus van minstens twaalf sinkgate in Centurion wat ook reeds ’n geruime tyd gelede by die metro aangemeld is, maar nog nie herstel is nie. “Daar is duidelik nie ’n tekort aan werk in dié metro nie, maar tog word gemeenskappe wat bereid is om self te mobiliseer en herstelwerk te verrig, afgejak. Die metro moet eerder hul benadering heroorweeg en hande vat met gemeenskapsorganisasies sodat daar saam aan ’n beter toekoms gebou kan word,” meen Ungerer. 

Ungerer voeg by dat AfriForum, waar moontlik, steeds met die Tshwane-metro wil en sal saamwerk. AfriForum sal egter sonder versuim voortgaan om gemeenskapsprojekte aan te pak wat tot die voordeel van die gemeenskap strek.

Soortgelyke plasings