|

Drie ure en 55 sakke vol vullis later – nóú is Viljoenskroon-ingang skoon

Die AfriForum-tak in Viljoenskroon het op 16 Maart die ingang vanaf Kroonstad getakel en die vullis langs die pad opgetel, die padsirkels se gras gesny, bome gesnoei, padgeute skoongemaak, netjies gemaak daar waar die vetplante op die verkeerseiland groei en ook ’n stormwaterdrein skoongemaak. Daar is 55 sakke vullis verwyder. Ongeveer 12 mense was betrokke by hierdie skoonmaakprojek en dit het hulle ongeveer drie ure geneem om hierdie ingang skoon te maak.

Die tak het hierdie inisiatief begin omdat die ingang baie sleg gelyk het en nie onderhou word nie. Hierdie dorpsingang word deur baie besoekers en inwoners gebruik. Die besoekers wat Saterdag van Heilbron af gekom het vir ’n sportdag by die plaaslike skool, kon beslis die verskil sien toe hulle later die dorp verlaat.

“Baie dankie aan die inwoners wat kom hand bysit het. Die tak wil ook nou toerusting aankoop vir hierdie tipe aksies en sal enige donasies waardeer,” sê Attie Barnard, waarnemende voorsitter van die AfriForum-tak in Viljoenskroon.

“Baie dankie aan die takbestuur wat met hierdie inisiatief vorendag gekom het. Dit is weereens ’n bewys dat ons self ons dorpe moet onderhou omdat dit nie meer deur die munisipaliteite gedoen word nie. ’n Klein klompie gewillige mense kan in ’n kort tydjie ’n groot verskil maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Soortgelyke plasings