|

Gemeenskapsveiligheideenheid in die Midlands gestig

Die AfriForum-tak in die Midlands het die afgelope naweek ’n span vrywilligers byeengebring om ’n gemeenskapsveiligheideenheid vir dié deel van KwaZulu-Natal te stig. Die eenheid bestaan uit ’n plaas- en buurtwag en het reeds 25 gemeenskapslede ingespan om die gebied te patrolleer.

Volgens Albert Jooste, leier van AfriForum se gemeenskapsveiligheideenheid in die Midlands, gaan die burgerregteorganisasie die gemeenskapslede met die nodige toerusting en opleiding verskaf sodat hulle vinnig en doeltreffend tydens noodgevalle kan optree. Dié plaas- en buurtwagspanne gaan ook nou saam met  die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) werk om die gebied te beveilig.

AfriForum dien reeds op die SAPD se landelike gemeenskapveiligheidsforum en is deel van die provinsiale landelike veiligheidsplan. Desnieteenstaande gaan AfriForum se Midlands-tak binnekort ’n herhaler oprig om ’n radionetwerk aan sy lede op sowel plase as in dorpe beskikbaar te stel. “Dit gaan nie net die kommunikasie in die streek verbeter nie, maar dien ook as ’n ekstra laag veiligheid in noodsituasies,” sê Oric Pretorius, voorsitter van AfriForum se Midlands-tak.

Inwoners wat graag by AfriForum se gemeenskapsveiligheidseenheid in die Midlands betrokke wil raak, kan die tak by 082 426 9524 of 082 458 1966 kontak, of ’n e-pos stuur aan voorsitter.midlands@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings