|

AfriForum-buurtwag in Potchefstroom hou geslaagde skietdag

Die AfriForum-buurtwag in Potchefstroom het op 20 April ’n baie geslaagde skietdag aangebied. Die lede het gratis toegang tot ’n skietbaan, ’n opgeleide Vrywillige Opleidingskorps (VOLK)-skietinstrukteur en uitdagende taktiese skietbane gehad. Die bane het werklike situasies gesimuleer wat skuts goed op hulle tone gehou het. Daar was stilstaande en bewegende teikens wat die skuts se vaardigheid behoorlik getoets het.

Die ervare lede het hulle kennis met diegene met minder ervaring en nuwe vuurwapeneienaars gedeel. Diegene wat al verroes is, het ook die geleentheid gehad om hul vuurwapens af te stof en te kyk of hulle nog weet hoe hul wapens werk. Daar was mans, vroue, lede met groot pistole en selfs lede met rewolwers. Die dag is goed deurdink om in almal se behoeftes te voorsien.

Alhoewel daar baie reëlings, beplanning, kostes en tyd in so ’n dag ingaan, hoop die buurtwag dat hulle al hoe meer mense sal betrek. Hulle bedank graag vir Philip Pyburn wat die baan kosteloos opgestel het vir die buurtwag se oefening. Die buurtwag nooi lede van die gemeenskap uit om by die buurtwag aan te sluit en geleenthede soos hierdie aan te gryp om sodoende ’n verskil in die veiligheid van die gemeenskap te maak.

“Dit is baie duidelik dat hierdie buurtwag daarop gefokus is en passievol daaroor is om hulle lede toe te rus sodat hulle wapenvaardig en sodoende meer verantwoordelike vuurwapeneienaars kan wees,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder in die Mooirivier.

Raak by Potchefstroom se AfriForum-buurtwag betrokke en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak vir Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings