|

AfriForum se Stellaland-buurtwagte hou nasionale massapatrollie

Die AfriForum-buurtwagte in Bloemhof, Christiana, Delareyville, Biesiesvlei. Vryburg en Wolmaransstad het in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies ’n massapatrollie op 19 April in hul onderskeie gebiede uitgevoer om polisiëringsigbaarheid te skep. Die aksie het omstreeks 16:00 begin en tot 04:00 die volgende oggend voortgeduur.

Altesaam 102 patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem en 2 207 km in 60 voertuie afgelê. Die hoofdoel van die patrollie was om sigbaarheid in die onderskeie gebiede te verhoog en sodoende misdaad hok te slaan. Geen ernstige insidente is tydens die patrollies aangemeld nie.

“Die Stellaland-buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereeld patrollies hou om misdaad in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies hok te slaan en veiligheid te bevorder. Dit is belangrik dat gemeenskappe en organisasies saam hande vat om misdaad te bekamp.  Die verhoogde sigbaarheid in dorpe speel ’n belangrike rol in gemeenskapsveiligheid en daarom is dit belangrik dat patrollies soos hierdie moet plaasvind,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

“Die impak tydens die nasionale patrollie op misdaad is duidelik sigbaar. Geen ernstige insidente is aangemeld tydens die patrollie nie wat ’n aanduiding is dat verhoogde sigbaarheid in gemeenskappe wel die misdaadsyfer kan verlaag. Die opleiding wat AfriForum vir sy buurtwagte aanbied, is duidelik sigbaar gedurende hierdie tipe patrollies. Om hierdie rede, speel buurtwagte ’n kardinale rol in die veiligheid van gemeenskappe en wil ons graag ander dorpe aanmoedig om by AfriForum se strukture betrokke te raak,” sluit Nel af.

Die Stellaland-buurtwagte wil graag elke patrolleerder en elke ander rolspeler wat deelgeneem het, bedank vir hul opofferings. Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: Klik hier vir meer inligting.

Soortgelyke plasings