|

Geregtigheid geskied ná ongeluk waarin kitskosafleweraar sterf

Granny Madihlaba glo dat geregtigheid nooit vir haar seun, Motheo Madihlaba, sou geskied het as dit nie was vir die ondersteuning van AfriForum se privaatvervolgingseenheid nie. Dít volg ná Jonas Noediegi Sebati in die Middelburg-landdroshof gevonnis is.

Sebati is op 10 Junie tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis vir strafbare manslag – die vonnis is opgeskort vir vyf jaar. Voorts is hy ook ’n boete van R4 000, of een jaar gevangenisstraf, opgelê omdat hy onder die invloed van alkohol bestuur het. Sebati het vroeër vanjaar skuldig gepleit op hierdie klagtes.

Ná die hofverrigtinge het ’n dankbare Granny Madihlaba gesê dat geregtigheid geskied het. “My seun is twee jaar gelede doodgemaak. AfriForum het verseker dat die skuldige sy dag in die hof kry. As dit nie was vir AfriForum nie sou ek Sebati nooit gesien het nie. Ek is bly dat hy gevonnis is. Die saak is nou verby en ek kan aanbeweeg.”

Madihlaba, ’n kitskosafleweraar, het op 16 April 2022 gewerk toe Sebati twee voertuie op ’n sperstreep verbygesteek en trompop teen Madihlaba op sy bromponie gebots het. Madihlaba is dood op die toneel. Verskeie motoriste het die ongeluk aanskou en voer boonop aan dat Sebati merkbaar onder die invloed van drank was. Madihlaba het ten tyde van sy dood nog net ’n maand by die restaurant gewerk, maar sy werkgewer het hom as betroubaar en hardwerkend beskou en bygevoeg dat almal van hom gehou het.

Granny Madihlaba het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Mei 2022 genader omdat sy besorg was dat die saak nie die aandag kry wat dit verdien nie. Daar is intussen vasgestel dat hoewel Sebati op die ongelukstoneel in hegtenis geneem is, die polisie hom later op borg van R1 500 vrygelaat het en hy was nie verplig om op ’n klag van strafbare manslag in die hof te verskyn op ’n latere stadium nie.

Die eenheid het hulle kommer in ’n skrywe aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NGV) uitgespreek. Daar is later bevestig dat die ondersoekbeampte steeds op die uitslag van die bloedalkoholvlaktoets wag en dat daar dus nog nie ’n besluit geneem kon word om te vervolg of nie. Die privaatvervolgingseenheid het aanbeveel dat Sebati, gebaseer op die weergawes van verskeie ooggetuies wat die ongeluk en die vlak van Sebati se nugterheid beskryf het, van strafbare manslag en bestuur onder die invloed van drank aangekla kan word. Die NVG het egter hierdie voorstel geïgnoreer.

Sebati is nietemin uiteindelik gedagvaar om in Desember verlede jaar in die hof te verskyn.

“Ons twyfel dat die ondersoek na Motheo se dood gefinaliseer of op die rol geplaas sou word as dit nie was vir die druk wat die privaatvervolgingseenheid op die NVG toegepas het nie,” sê Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid. “Dit gebeur te gereeld dat sake van strafbare manslag onopgelos bly as gevolg van oneindige oponthoud met die verkryging van bloedalkoholverslae, ten spyte van ooggetuies wat kon getuig dat die bestuurder dronk was.”

“Ons eenheid sal aanhou om slagoffers van misdaad en hul families te ondersteun om te sorg dat geregtigheid geskied. Ons is tevrede dat Granny nou afsluiting kon kry,” sluit Bateman af.

Soortgelyke plasings