|

Germiston-tak ruim Buxton-park op

AfriForum se Germiston-tak het op 11 Maart in samewerking met die gemeenskap die Buxton-park in Dinwiddie skoongemaak. Dié parkie was met rommel, leë drankbottels en selfs dwelmtoebehore besaai en het ’n woonplek vir sluipslapers geword. Die tak het met die hulp van die gemeenskap die rommel opgetel, sowat twee hektaar se gras gesny en heelwat bome gesnoei.

“Die doel van dié projek is om ’n plek vir kinders te skep waar hulle weer veilig kan speel. Die park was in die verlede ’n plek waar die gemeenskap kon ontspan, maar het die afgelope paar jaar weens gebrekkige instandhouding baie agteruitgegaan,” sê Jurie Ferreira, distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Die tak bedank die lede van die gemeenskap en die Nuwe Apostoliese Kerk (NAK) wat hulle eie toerusting gebring het om te help om die park op te ruim.

“Sodra ’n gemeenskap saamstaan, kan ’n mens die verskil dadelik opmerk. Die dorp lyk nie net mooier nie, maar dit laat ’n mens ook beter voel. Ons hoop dit sal al die inwoners aanspoor om by dié tak aan te sluit en by soortgelyke projekte betrokke te raak,” sluit Ferreira af.

Die Germiston-tak doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak en sodoende hul gemeenskap te help: SMS “Germiston” na 45340 (R1) om aan te sluit en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings