|

GOP: Parke, vullisterreine en rioolstelsel in Welkom kort dringend aandag

Die AfriForum-tak in Welkom en omliggende gebiede het hul kommentaar ingedien op die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP).

Daar is veral gefokus op dié dorp se rioolprobleem wat daagliks vererger. AfriForum moet gereeld inspring om verstopte rioolpype oop te maak. AfriForum het in hul GOP-kommentaar ook versoek dat daar dringend aandag gegee word aan die instandhouding van paaie, wat die herstel van slaggate en die opdatering van padtekens insluit. Inwoners in en om Welkom gaan ook gebuk onder erge waterprobleme omdat daar selde water uit die krane vloei. Indien daar wel water is, kan dit nie gebruik word nie want dit is vuil.

AfriForum beveel aan daar moet ook vir die volgende begroot word:

  • Instandhouding van parke wat tans hawelose mense lok.
  • Instandhouding van vullisterreine (Welkom, Odendaalarus, Allanridge, Virginia, Henneman en Ventersburg) wat nie aan die minimum standaarde voldoen nie.
  • Om die probleem met onwettige vullisstorting op te los.

“Die voorstelle wat AfriForum ingedien het, sluit terreine in wat die Matjhabeng-munisipaliteit nou al vir veels te lank afskeep. AfriForum help graag waar hy kan om ’n gebied op te knap of om probleme op te los, maar dié burgerregteorganisasie sal nie toekyk hoe die munisipaliteit nie hul verantwoordelikhede teenoor die gemeenskap nakom nie,”  sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

AfriForum nooi die gemeenskap uit om by hul projekte betrokke te raak. Sluit aan by www.wordlid@afriforum.co.za.    

Soortgelyke plasings